“Ek moes dae lank na haar leuens luister,” het hy gesê in reaksie op ’n punt wat haar regsverteenwoordiger, Reaz Khan, gemaak het.

Die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy Zephany Nurse by haar ouers, Morne en Celeste Nurse, gesteel het, voer aan dat sy die baba by ’n vrou op die Wynberg-treinstasie gekry het en haar R3 000 vir vrugbaarheidsbehandelings betaal het.

Lees ook: ‘Celeste, ek het nooit jou kind uit jou arms gevat nie,’ sê Zephany se grootmaakma in hof

Sy het vroeër ’n miskraam gehad, maar nie vir haar man daarvan vertel nie. Die vrou, wat haarself as Sylvia voorgestel het, het haar genader toe sy ’n ginekoloog in die Tygerberg-hospitaal gaan sien het.

’n Ruk daarna het Sylvia haar een oggend gekontak en gesê sy het vir haar ’n pasgebore baba wie se ouers haar nie wil hê nie.

Nadat sy haar op die stasie gekry het, is sy met die baba na die Retreat-hospitaal en het vir haar gesin vertel dit is haar eie.

Die regter het die vrou se geloofwaardigheid bevraagteken en gesê sy het vir die polisie gejok toe hulle haar op 25 Februarie gekonfronteer het oor of dit haar biologiese kind was. “Die bewyse teen haar is oorweldigend. Haar weergawe maak glad nie sin nie.”

Hy het ook gesê hy vind dit vreemd dat haar man vier maande lank nie kon agterkom sy is nie meer swanger nie.

Lees ook: Zephany Nurse se grootmaak-ma het gedink ‘haar mamma wil haar nie hê nie’

Morne Nurse het tydens die hofverrigtinge aandagtig na alles in die hof geluister en stip voor hom gekyk. Die beskuldigde, geklee in ’n pienk top en jeans, het vriendelik vir ondersteuners gewaai wat in die galery gesit het.

Reaz het aangevoer die staatsgetuie, Shireen Piet, was onseker tydens die uitkenningsparade en kon nie onmiddellik met sekerheid sê of dit die beskuldigde is wat sy jare gelede in die hospitaal gesien het.

“Die staat se saak wat op Mev. Piet se uitkenning gegrond is, is nie betroubaar nie. Dit (sy saak) kan nie bo redelike twyfel bewys word nie.”

Die staatsaanklaer, adv. Evande Kortjé, het gesê die beskuldigde is self nie duidelik oor die weergawe van haar eie storie nie.

Die regter sal Donderdagoggend om 10:00 uitspraak lewer.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Die ooievaar is omtrent besig onder bekendes – kyk wie se dogtertjie is ook gebore!

Liam Payne dolverlief op Cheryl Fernandez-Versini

Twee vissermanne sterf ná boot aan Weskus omslaan

Drie verdagtes vas ná Tokai-moord