Die sanger Pieter Smith en sy vrou, Yolandi, gaan ouers word.

[caption id="attachment_133833" align="alignnone" width="600"]Foto: Nadia van Rensburg Foto: Nadia van Rensburg[/caption]

“Ons is so opgewonde,” het Pieter eksklusief aan Huisgenoot gesê. “Ek word pa. Op 41! Ek moes 41 jaar hiervoor wag,” het hy laggend gesê.

Yolandi (34) is ongeveer vier maande swanger en Pieter onthou die dag toe Yolandi die swangerskapstoets moes doen.

“Ons was natuurlik nogal op ons senuwees. Ek word nie jonger nie.”

Volgens Pieter was hulle in die wolke toe die toets positief is. Boonop het hulle onlangs uitgevind Yolandi verwag ’n dogtertjie.

[caption id="attachment_133831" align="alignnone" width="600"]Foto: Nadia van Rensburg Foto: Nadia van Rensburg[/caption]

“Ek sien daarna uit om met haar te kan deel wat ’n mens al geleer het oor die afgelope 41 jaar. Ek wil haar ook graag later saamneem konserte toe,” sê Pieter.

Hy sê hulle het al aan name begin dink, maar nog geen finale besluit geneem nie.

“En gelukkig het die meeste van ons vriende dogtertjies. Dis ’n voordeel, want ons leer maar by ons pelle. Ons het ook al ’n hele klomp presente gekry.”

Volgens Pieter moet hy ook nou sy musiekplakkate en CD’s ’n bietjie rondskuif om plek te maak vir die kleinding wat op pad is. Hy moet ook aan die werk spring om die babakamer gereed te kry, sê hy.

Hy sê Yolandi is gesond en alles verloop tot dusver reg.

“Ons verwag haar so teen middel Januarie.”

Vir Pieter lê dubbele vreugde voor, want sy nuwe album word ook na verwagting teen die einde van September uitgereik.

“ ’n Nuwe CD is mos ook maar soos ’n nuwe kind. Want dit is 12 nuwe liedjies waaraan jy gewerk het,” skerts hy.

Volgens Pieter is die album, wat hom drie en ’n half jaar geneem het om te voltooi, reeds opgeneem en is hy nou besig om aan die laaste detail te skaaf. Die album moet ook nog ’n titel kry.

“Gehalte neem tyd,” sê hy. “Dit is iets wat iemand wat van ’n Pieter Smith-konsert hou, baie sal waardeer. As jy daardie CD insit, sal jy vir ’n uur en ’n half van al jou probleme vergeet.”

Pieter en Yolandi is verlede jaar in November op Lambertsbaai getroud.