Dit sit nie in enige agtjarige se broek om ’n baba te vang nie. Maar as jou naam Marcus Caffery van Wolverhampton in Engeland is, doen jy wat jy moet “om die werk gedoen te kry”.

Marcus se pa, David, kan nie glo hoe kalm die jongeling was toe sy babasussie onverwags besluit om haar opwagting te maak nie. Al wat Marcus wou hê, is dat alles gou gedoen moet word en dat die paramedici ook gou sal opdaag.

Hy ken glo sy storie met Lego-blokkies, maar van die ingewikkelde bedryf van babavang het hy net mooi niks geweet nie. Wel, in elk geval nie voor Sondag 20 November nie.

Ma Jodie het David vroegoggend wakker gemaak met die tyding dat hul babatjie weliswaar op pad is. Marcus en sy 16 maande oue bababoetie Alexander se grootouers sou intussen na hulle omsien.

Maar toe stuur die vroedvrou Jodie terug huis toe. Terwyl sy rustig televisie gekyk het, was David elders in die huis besig. Toe hy ’n klein gilletjie van Jodie se kant af hoor, het hy eers gedink dit is dalk ’n spinnekop wat haar die skrik op die lyf jaag.

Maar dit was allesbehalwe ’n spinnekop. Hul babatjie het besluit dis nou of nooit en David kon sy oë nie glo toe hy sien sy is besig om haar opwagting te maak nie.

Hy het dadelik die ambulans ontbied, maar omdat dit moeilik is om hul huis met GPS op te spoor, het ’n angstige David in en uit die huis beweeg om seker te maak hy gewaar die ambulans wanneer dit opdaag.

Die persoon in die nageboorte-eenheid het vir David op die foon gevra of daar iemand is wat bystand kan verleen. Ewe ongeërg was die antwoord: “Ja, my agtjarige seun.” Sy het gesê dis goed genoeg.

Toe David die derde keer die huis binnekom om seker te maak alles is nog piekfyn by Jodie, moes hy tot sy verstomming sien dat Marcus op sy knieë sit met die babatjie in sy arms. Al wat nog moes gebeur, is dat die voetjies moes uitkom.

Klein Freya weeg 3,8 kg en alles is wel met die ma en die nuweling.

En Marcus? Hy het ná sy heldedaad ewe ongeërg na sy boetie gegaan, vir hom verduidelik wat gebeur het en toe vir hom 'n storie uit ’n boek voorgelees.

Bronne: expressandstar.com, rtlniews.nl, bbc.com