“Ek kan die beeld van die vrou wat by die kar se venster uitvlieg, nie uit my geheue wis nie. Ek kon heelnag nie slaap nie.”

So vertel ’n leser van Huisgenoot.com nadat sy en haar gesin rakelings aan ’n trompop botsing op die N12 buite Potchefstroom ontkom het. ’n Motoris in 'n blou motor het glo van voor op hulle afgejaag, op die laaste oomblik uitgeswaai en toe die motor reg agter dié van ons bron met noodlottige gevolge getref.

“Ek het gedink die motor gaan óns tref . . . toe swaai dit uit en ry ons mis. Toe ek omkyk om te sien of my twee kinders agter in ons motor oukei is, sien ek deur die agterruit hoe ’n vrou uit die venster van die blou motor vlieg,” vertel sy. Die vrou wat uit die motor geslinger is, het na bewering op die toneel gesterf en haar drie kinders is ook ernstig beseer in die botsing.  

Huisgenoot.com se bron het gevra om anoniem te bly. Sy vertel sy, haar man en twee kinders was Sondagaand met die N12 op pad huis toe.

Skielik het hulle gesien hoe ’n blou motor reg van voor op hulle afjaag nadat die bestuurder ’n vragmotor glo op roekelose wyse verbygesteek het. Haar man het sy hoofligte waarskuwend geflikker. Die aankomende motor het toe uitgeswaai na die verkeerde kant, van die pad af beweeg en toe weer teruggeswaai – reg voor die volgende aankomende motor in.

Sy vertel nadat die bestuurder van die blou motor beheer verloor het, het dit in die veld langsaan en weer terug in die baan van aankomende verkeer beland. Die vrou het toe hulle verby is, omgekyk na haar kinders en gesien hoe die blou motor van voor met ’n ander swart motor gebots.

Ons bron se man het nie stilgehou op die ongelukstoneel nie, maar sy het die nooddienste van haar selfoon af gebel. “Ons het ’n ent verder die ambulans vanuit die rigting van Potchefstroom sien aankom.”

Volgens ER24 is die vrou op die toneel dood en haar drie kinders is met ernstige beserings na die Potchefstroomse hospitaal geneem. Hul name is nie bekendgemaak nie.