En dis beslis die geval met hierdie 31-jarige vrou – sy skenk binnekort die lewe aan haar skoonsuster se baba.

Rachel Wilcox het aangebied om ’n kind vir haar man se suster te baar nadat kolonkanker by die suster gediagnoseer is en sy nie kinders kon kry nie.

Rachel was swanger met haar derde kind toe sy uitvind haar skoonsuster, Amanda Patterson (33), het ’n aggressiewe vorm van kanker.

Amanda, ’n ontvangsdame by ’n tandarts, het agtergekom daar is fout toe sy kwaai maagkrampe ervaar het. Die kanker is in Oktober 2014 by haar gediagnoseer. 

Sy moes ’n operasie ondergaan om die gewas te verwyder en chemoterapie en bestraling ondergaan.

“Ek het nog alles probeer verwerk toe Rachel die dokter vra of ek kinders sal kan kry, en hy het na ons gekyk en ‘nee’ geantwoord,” vertel Amanda. Dit was vir haar 'n groot slag, want sy het toe pas haar toekomstige man, Reid, ontmoet en moes hom dié nuus meedeel.

Rachel het vir haar ginekoloog van haar skoonsuster se hartseer situasie vertel, maar was glad nie voorbereid vir wat die dokter toe voorstel nie.

“Ek het my dokter tydens ’n swangerskapondersoek van Amanda se situasie vertel, en toe sê sy: ‘Wel, jy kan haar surrogaat word’. Ek het net gelag. Ek het toe reeds vir almal gesê my derde baba sal my laaste swangerskap wees.”

Rachel, wat haar dokter se voorstel in haar agterkop gehou het, is al jare lank vriende met Amanda en is met haar broer, Micah Wilcox, getroud.

“Voor ek dit met Micah bespreek het, het ek dit aan Amanda voorgestel. Ek dink nie sy het my regtig ernstig opgeneem nie.”

Ná ’n gesprek met haar man het sy vir die desperate paartjie ’n teksboodskap gestuur en gesê dit sal ’n eer wees om hul baba te dra – en hulle het toe almal op surrogaatskap besluit waar Amanda en Reid se eierselle en spermselle gebruik is.

“Daar is nie woorde om te beskryf hoe dankbaar ek is nie,” sê Amanda. “Rachel is die onbaatsugtigste mens wat ek ken.”

Rachel is nou 31 weke swanger met ’n dogtertjie – en ’n opgewonde Amanda is besig om die babakamer reg te kry vir die kleinding se koms in Oktober.

“Sy’t soveel vir ons opgeoffer en ons sal haar nooit kan terugbetaal nie,” sê Amanda.

Bronne: thesun.co.uk, dailymail.co.uk, mirror.co.uk