Die storie begin in die somer van 1998 toe die polisieman Peter Getz by ’n brandende gebou in Harford aankom en die 5-jarige Josibel (Josi) Aponte daar vind. Sy het geen reaksie getoon nie en was met lae as bedek.

“Ek was byna dood, maar ek het ’n tweede kans gekry op die lewe,” het Josi aan die Hartford Courant vertel.

“En dit was aan Peter en die owerheid te danke, almal wat op daardie dag kom help het.”

Lees ook: Sewejarige breek op met ma in skreeusnaakse verjaarsdagkaartjie

Volgens Peter is hy op daardie dag, 25 Junie 1998, uitgeroep na ’n brand by die Apontes se woonstel in Washingtonstraat. Hy het net betyds op die toneel aangekom om klein Josi te red.

Die brand, wat die lewe van haar oom, Jofrey, geëis het, is vasgelê op ’n aangrypende koerantfoto waarop Josi se bewustelose liggaampie deur die polisieman gedra word.

Die polisieman het soos ’n ware held opgetree en dadelik kunsmatige asemhaling op haar begin toepas, terwyl sy maat met hulle hospitaal toe gejaag het.

“Ek het gehoor as hy net nog ’n paar sekondes gewag het vir die ambulans, kon ek gesterf het,” het Josi gesê. Volgens die polisieman sal die ondervinding hom vir altyd bybly.

“Dit is een van daardie goed wat jou hart raak en jou bybly,” het Peter aan die Courant gesê. Die brandweermanne het hul plig gedoen, ek het my plig gedoen en die hospitaalpersoneel het hul plig gedoen. Die gevolg is dat ons steeds ’n pragtige jong vrou hier op aarde het.”

Peter het voortgegaan om Josi te onderskraag deur haar in die hospitaal te besoek tot sy heeltemal gesond was. Hy het selfs vir haar ’n teddiebeer gegee.

Die polisieman het oor die jare met die tiener in aanraking gebly om haar vordering te volg, tot hulle kontak verloor het toe sy en haar gesin na ’n ander dorp trek.

Lees ook: Gebroke weduwee laat skep ring uit as van oorlede man as nalatenskap vir hul dogtertjie

“Hy het my gered en hy stap eenvoudig uit met my in sy arms,” het Josi gesê. Ek is so dankbaar teenoor hom; ons sal hom altyd my beskermengel noem.”

Volgens die 23-jarige Josi het sy gevoel dat dit die regte ding sou wees om met die man wat haar lewe gered het, in aanraking te kom en sy het besluit om hom op Facebook te soek.

“Nie baie mense sal hul lewe in gevaar stel om ander mense te red nie,” het sy gesê. “Dit is aan Peter en al ons polisie- en brandweermense te danke dat ek vandag leef.”

Die twee ou vriende het bymekaar uitgekom nadat hulle kontak gemaak het en toe dit tyd is vir Josi om haar graad te kry, het sy gesê dit is ondenkbaar dat die polisieman nie die groot oomblik met haar sal deel nie – aan haar sy.

“Ek was soort van oorstelp deur die uitnodiging na haar gradeplegtigheid,” het hy gesê. “My hart klop vinniger as ek sien hoe suksesvol sy is.”

Josi het haar graad met die hoogste onderskeiding behaal.

Bronne: dailymail.co.uk, insideedition.com, huffingtonpost.com