Hier vertel Penny Sparrow in haar eie woorde vir Huisgenoot wat sy dink van die beslissing en die reaksie op haar Facebookinskrywings waarin sy swart Suid-Afrikaners ape noem.

"Ek het berou oor dit alles, want ek was nie bewus daarvan dat dit op ’n hofsaak sou uitloop nie. Die speurder, wat die kriminele ondersoeker is, was vir die grootste deel van die saak saam met my in die hof. Toe hulle my dus bel en sê ek moet Vrydag in die hof wees, het ek die ondersoeker gebel en hy’t gesê: ‘Jy is nie geregistreer nie’, moenie bekommerd wees nie. Daar’s niks op die hofrol nie, dis als propaganda.

Die volgende ding wat ons gehoor het, was dat die hofsaak wel voortgaan en dis hoekom Charmaine in my plek moes gaan – omdat ek nie tans in die Suidkus is nie. Ek is by ’n vriend in Johannesburg.

Daar was nie tyd om soontoe te gaan nie. Sy het probeer uitstel kry en kon nie. Ek het nooit van die gereg probeer ontsnap nie. Daar is aan my gesê dis nie ’n regskwessie nie, maar ’n siviele saak.

Dis vir my teleurstellend dat hulle mense soos Julius Malema uitlos wat ook nie hof toe gaan nie en dan word hul sake uitgestel. Myne was nie. Ek moet eintlik jammer sê vir die gelykheidshof.

Ek kan nie ’n prokureur kry nie, ek’s ’n diabeet en was siek van al die stres. Ek dink dis uiters onregverdig en baie teleurstellend. Ek is baie swaar gestraf. Ek is glad nie ’n rassis nie. Ek het vir ’n Indiese vrou gewerk, wat my beste vriendin is.

Ek is nie ’n rassis nie.

Ek het net ’n punt gemaak oor die vuil strande en dit het niks met al die ander dinge te doen nie. Ek het dit nie bedoel nie.

Witmense sê soms vir hul kinders: ‘Jou klein apie’. En dis nie haatspraak wat ons op ons kinders mik nie. Ons is lief vir ons kinders. Ek sê selfs vir my diere as hulle stout is en goed uit die vullisblik trek: ‘Julle stoute klein apies’.

Witmense gebruik gedurig die woord, want dit beteken jy vang kattekwaad aan. Jy vang stout goed aan, maar apies is oulik. Ek is glad nie ’n rassistiese mens nie en alles is buite konteks gelees.

Ek het nie bedoel om enigeen aanstoot te gee nie. Ek gebruik die woord met my kinders, kleinkinders en baie witmense noem hul kinders ‘monkeys’. Dis nie haatspraak vir ons nie.

Ek is baie siek weens die suikersiekte. Dit skiet die hoogte in en kan nie regkom nie want daar’s soveel stres omdat ek beskuldig word van iets wat ek nie is nie. Ek is werklik jammer. Ek het om verskoning gevra en verduidelik dat ek nie bedoel het om enigeen te beledig nie.

Ek sou nie so iets doen nie. Dis net die Engelse manier van sê iemand was stout. Dis hoe ek dit gebruik het. Die gevolge het my werklik geskok gelaat en my suikervlakke laat wipplank ry. Ek was onlangs vir meer as ’n week in die hospitaal om dit onder beheer te kry. Ek het longonsteking ook opgedoen.

Ek het nie bedoel om enigeen seer te maak nie. Ek woon al sowat 23 jaar aan die Suidkus en moes trek weens bomdreigemente, moorddreigemente en my familie woon daar, so hoe kan ek bly en so iets uitlok?

Ek kan nie toelaat dat hulle in die moeilikheid beland nie. Ek moes vlug en by vriende gaan bly en is tans haweloos. Ek kan nie ’n adres verskaf nie, want ek bly vir twee, drie weke by een persoon en dan weer by iemand anders. Ek het diere en moes hulle ’n maand lank verlaat.

Ek moes hulle laas by ’n swart vrou los want sy’s die enigste mens wat ek met my diere kon vertrou. Ek kan slegs na vriende gaan waar ek my diere saam met my kan neem. Ek’s ’n groot diereliefhebber. Ek het ’n paar katte en honde.

Ek het al sedert Januarie by sowat nege plekke gewoon. Ek bly nie te lank op een plek nie.

Ek het nie ’n werk nie. Ek is geskei. Dis ’n stryd. My kinders moet vir my uitgawes betaal. Ek het twee seuns, een oorsee en een in Kaapstad. Hulle help my. Hulle moet, want ek is hul ma. Hulle weet ek is ’n gawe, saggeaarde mens. Ek is nie ’n moeilikheidmaker nie.

Ek het vir jare by ’n koerant gewerk en weet wat ek mag en nie mag sê nie. Ek het nie bedoel om skade te berokken nie. Dis aaklig. Ek huil die heeltyd. Ek is so hartseer.

Ek is weggeskeur van my kinders. Ek sal nooit gelukkig wees onder hierdie omstandighede nie. Ek kan nie met my kleinkinders wees nie. Ek is ’n wonderlike ouma en kan nie die baba geniet nie.

Ek het soveel pyn deurgemaak. Ek wonder soms hoekom ek vervolg word vir iets wat ek nie bedoel het nie. Ek het dit nie so bedoel nie; dis buite konteks gehaal.

Ek was bekommerd oor die strande wat in ’n aaklige toestand is. Ek is in Oktober weg by Jawitz Properties oor my gesondheid. My opmerkings was in antwoord op ’n vriend wat oor die strande gekla het.

Die base, prokureurs het my gebel en gedreig en ek het gesê ek werk nie meer daar nie. Hulle noem my die heeltyd ’n eiendomsagent. Ek is nie een nie. Ek het net die telefone beantwoord en mense gehelp wat huise gesoek het. Dis al. Maar ek het die agentskap verlaat omdat ek baie siek geword het en amper dood was van longsteking en diabetes.

Ek sal nooit oor die pyn kom nie. Dit sal my vir altyd bybly. Dis ’n aaklige, aaklige ding wat gebeur het en om te dink dis veroorsaak deur iets wat ek nie bedoel het nie. Ek is nie ’n nare mens nie. Ek was ’n geliefde, gelukkige mens, maar nie meer nie.

Dit verhoed dat ek ’n werk kry, hou my weg van my kinders. Hulle is al wat ek het. Ek sal nooit weer kan terugkeer nie. Ek sal nooit die vrede ervaar wat ek gehad het nie.

Ek was welbekend in Scottburgh. Ek het vir Charmaine gehelp. Haar werkers was lief vir my en toe hulle vir mense sê sy is nie rassisties nie, wou die mense hulle doodmaak. Hulle kan nie eens praat nie.

Ek is veroordeel. Ek kan nooit terugkeer nie. Dis aaklig sonder my familie. Ek mis hulle. Hulle is al wat ek het. Ek het ’n agterkleinseun wat sonder my grootword.

Ek is van Scottburgh af Port Elizabeth en toe Johannesburg toe. Ek het vriende gevra of ek by hulle kan oorbly, want ek het nie geld vir hotelle nie. Hulle het gesê kom bly hier vir ’n maand en as daar probleme is, moet jy gaan.

Ek het stil-stil geleef. Mense het my nie herken nie. As mense werklik aaklig is, verdien hulle om so te leef, maar ek verdien dit nie. Ek kon iets veel ergers gesê het, maar ek het nie. Ek het die woord ‘monkey’ gebruik omdat hulle stout was.

Ek mis my familie, jy maak vriende en moet hulle dan weer agtergelaat. Niemand wil my huisves nie en op my ouderdom maak jy nie nuwe vriende as jy al ’n oumagrootjie is nie.

Jy gaan nie uit en speel kaarte of gaan dans of enigiets nie. Dis dinge wat jy deur die loop van jou lewe doen en ek was vir jare in Scottburgh, gelukkige getroud en dinge het skeefgeloop en ons het geskei. Ek het by Charmaine en my kleinkinders gebly en was baie gelukkig.

Ek het ’n wonderlike werk by ’n koerant gehad, ek het selfs oorsee gegaan om vir ’n rukkie na bejaardes om te sien. Met my terugkeer was daar nie ’n posisie vir my by Caxton nie en ek het toe die werk by die eiendomsagentskap gekry. Die eienaar het dreigemente gekry en haar kinders is gedreig. Dit was aaklig. As ek dit verdien het, sou ek die straf gedra het, maar ek het nie. Ek is ’n liefdevolle mens.

Ek het jammer gesê, maar as ek nou na Charmaine luister, was dit die gelykheidshof wat die om verskoning wou hê en niemand het dit vir my gesê nie. Ek het nie eens geweet wat die gelykheidshof is nie.

Ja, ek was mal oor Facebook omdat ons almal kon foto’s en grappies uitruil. Ek was mal daaroor en dit was aaklig om my daarvan te onttrek.

Ek het nie eens besef iemand kon my storie (my Facebook-inskrywing) optel en dit op Twitter deel en dat dit meer twiets as iets oor Oscar Pistorius ontlok het nie.

Maar vir wat? Vir iets waarmee ek regtig nie bedoel het om enigeen te beledig nie. Ek is nie daardie soort mens nie. Dit was ’n verkeerde woordkeuse. Ons as witmense word ook lelike goed genoem . . .

Dit gaan nie goed met my nie. En dis gevaarlik want die stres kan veroorsaak dat ek in ’n koma beland.

Ek vra om verskoning omdat ek weet ek het dit nie bedoel nie. Ek het oor die strande gepraat, en was nie al een nie. Die strande was vanjaar in so ’n slegte toestand. Ons is gewoond daaraan. Ek is in Oos-Afrika gebore. My eerste taal was Swahili, ’n swarttaal. Ek is gewoond aan swart mense. Hulle is goeie mense.

Daar is niks verkeerd met hulle nie. Dit is hoekom die rasseherrie so seer maak – omdat ek dit nie lelik bedoel het nie.

Ander stories op Huisgenoot.com

Twee hande wat bo die modder uitgesteek het, lei tot 70-jarige se redding

Orlando-slagting: Dit is wat ons van die massamoordenaar weet

Hoe goed ken jy jou dierverwante idiome?

Leer ken jou kind se leerstyl en speel klaar met studiekopsere

#SpeelSaam: Gaan hierdie legkaart van giggelende sebras jou klop?