Jayde Panayiotou se man het beweer hy is nie goed met woorde nie en dis hoekom hy sy lofrede vir haar begrafnis gegoogle het, het Netwerk24 Maandag berig.

Christopher Panayiotou se prokureur, Alwyn Griebenow, het hom die naweek oor die lofrede uitgevra ná berigte dat sy lofrede by sy vrou se begrafnis swaar gesteun het op een wat aanlyn beskikbaar is.

Griebenow het gesê Christopher het verduidelik hy is nie goed met woorde nie en het nog elke keer wanneer hy voor mense moes praat, insluitend sy troue, die regte woorde op die internet gaan soek.

Die lofrede bevat frases uit ’n huldeblyk geskryf deur Charles Atkins, genaamd “My Sweet Wife’s Eulogy” en is Oktober 2010 gedateer.

Jayde Panayiotou is op Dinsdag 28 April buite haar huis in Kabegapark ontvoer terwyl sy gewag het vir haar saamrygeleentheid na die skool waar sy gewerk het. Sy is later aan die buitewyke van ’n dorpsgebied in Uitenhage dood gevind.

Twee mense is in verband met die ontvoering en moord in hegtenis geneem. Dit blyk asof die dade met voorbedagte rade gepleeg is.

Een van hulle, Thando Siyoli (31), het Donderdag in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn. Dit het aan die lig gekom dat hy ’n aansienlike bedrag betaal is om haar te vermoor.

Die ander gearresteerde man (28) is ’n naby familielid wie se identiteit aan News24 bekend is. Sy naam kan nie bekend gemaak word voor hy Maandag in die hof verskyn nie.

Bronne: Netwerk24, News24