Die aktrise, wat binnekort in die fliek The Canyons te sien sal wees, het op 31 Julie 90 dae van rehabilitasie voltooi as deel van ’n pleitooreenkoms om uit die tronk te bly. Dit volg nadat sy haar paroolvoorwaardes verbreek het deur verlede jaar vir die polisie te jok oor ’n motorongeluk.

In ’n lokprent vir haar eerste onderhoud ná rehabilitasie vra Oprah Winfrey die 27-jarige aktrise: “Dink jy jy kan dinge omswaai?” Sy vra ook: “Waaraan is jy verslaaf?” En ’n emosionele Lindsay antwoord: “Ek is my eie grootste vyand. Ek weet dit.”

Oprah (59) toon groot belangstelling in Lindsay se welstand ná haar welbekende probleme. Lindsay verfilm ook ’n dokumentêre reeks oor haar herstelpad vir Oprah se TV-kanaal OWN. Oprah het kort ná die onderhoud vir Oprah’s Next Chapter gesê sy glo Lindsay is reg om aan te gaan met haar lewe.

“Ek het pas ’n onderhoud met haar gevoer en was diep ontroer deur haar begeerte om aan te gaan met haar lewe. Ek glo werklik sy is gereed daarvoor.”

Sy het ook gesê Lindsay was “eerlik” en “opreg” tydens die onderhoud. “Sy het goed gelyk. Sy het sterk en gesond gelyk.”