Daniël Jacobs (63) sit op sy voorstoep in Worcester. Dis ’n snikhete dag op dié Bolandse dorpie. Skoolkinders lag en hardloop in die strate, opgewonde om huis toe te gaan.

[caption id="attachment_120059" align="alignnone" width="600"]dfghdh Daniël ly aan ’n aardige toestand wat veroorsaak dat vetkliere op sy nek en lyf ontwikkel. Foto: Peet Mocke[/caption]

Daniel sit in die skadu’s en kruip weg vir die oë wat altyd vir hom kyk en die aaklige name wat mense hom toesnou. Hy word gereeld “Diknek” of “Olifant” genoem oor sy voorkoms.

Hy het ’n aardige toestand wat veroorsaak dat vetkliere op sy nek en lyf ontwikkel. Wat eens sy nek was, is nou een groot, vet massa wat oor sy T-hemp hang en teen sy bors druk.

“Dit is al 20 jaar so,” sê hy en sug.

Sy rug krom, en sy oë leeg van pyn en vernedering.

[caption id="attachment_120061" align="alignnone" width="600"]Só lyk Daniël op sy ID-foto voor sy nek dik geword het. Foto: Peet Mocke Só lyk Daniël op sy ID-foto voor sy nek dik geword het. Foto: Peet Mocke[/caption]

“Dit het my lewe heeltemal op sy kop gedraai. Ek was ’n ordentlike jong man en kyk nou net.” Daniël wys ons ’n 20-jarige man wat in sy ID pronk, met oë vol lewenslus en vuur.

“Ek kan nie eens iets eenvoudigs doen soos myself was of bed opmaak nie.” Dié groeisel het so groot en swaar geraak dat hy nou met ’n kruk moet loop weens die groot gewig wat sy nek en skouers moet dra.

Die groeisel het vir hom soos ’n puisie gelyk toe hy dit die eerste keer sien. Toe dit verdriedubbel, het hy en sy ma, Sarah (84), by wie hy woon, na die Tygerberg-hospitaal in Bellville gegaan vir raad.

“Die dokters het gesê dis vetkliere wat ontwikkel. Hulle wou dit uitsuig, maar het gesê dit kan dalk teruggroei,” verduidelik Sarah.

[caption id="attachment_120060" align="alignnone" width="600"]ghf Daniël is bang vir dokters en hospitale en kon daarom nog nie die nodige behandeling ontvang nie. Foto: Peet Mocke[/caption]

Daniël het teen die prosedure geskop omdat hy ’n groot vrees vir hospitale en dokters het. “Wat sou dit my help om te gaan en dan groei dit net weer terug.”

“Ek kyk vir hom en dan dink ek: As hy voor my moet gaan, gaan ek my kind met sulke vreeslike groeisels in die grond moet begrawe,” sê Sarah.

Sarah sê sy is te oud om hom te help en kan nie ’n voltydse versorger bekostig nie. Met Huisgenoot se besoek aan Daniel en sy ma het die inwoners van die dorp hom kerk toe genooi om vir hom te bid.

“Ek’t besluit om nie te gaan nie; die mense sal net kerk toe gaan om vir my te kyk. Die dominee kan huisbesoek doen en hier vir my kom bid, Mammie,” sê hy toe sy ma hom weer probeer oorreed om te gaan.

Al is hy baie selfbewus is sy geloof en wil om deel van die samelewing te wees nog sterk. “Elke aand voor ek gaan slaap, sê ek my gebed op en vra die Here om my die volgende dag te beskerm en te bewaar. Ek bid ook baie vir Mammie.”

[caption id="attachment_120062" align="alignnone" width="600"]fgdfg Hy vertel dit voel sommige aande of hy wil versmoor en hy sukkel om te slaap. Foto: Peet Mocke[/caption]

Wanneer hy klaar met die Here gepraat het en wil inkruip, begin hy weer stoei met sy liggaam en voorkoms. “Dis moeilik om snags te slaap,” sê hy terwyl hy die vetmassa onder sy ken in sy hemp druk om dit te verdoesel.

“Ek raak vreeslik benoud en angstig wanneer ek so lê. Dit voel snags of ek versmoor.”

Daniël gee kort antwoorde. “Ek het ’n vreeslik kort asem. Ek kan nie baie praat of ver loop nie, dan kry ek sulke aaklige hoesbuie. Deesdae hoes ek bloed.”

Kom hy ooit uit die huis uit?

“As ek lus voel om dorp toe te gaan, vat ek die taxi. Ek probeer ook ’n bietjie stap, maar my bene raak gou moeg.” Hy sê dit pla hom eintlik nie meer dat mense hom name noem of spot nie.

“Partykeer raak ek nog baie kwaad vir mense en dan skel ek hulle; ’n mens raak net soms kwaad en moedeloos.” Ons stap saam met Daniël in die straat buite sy huis. Sy gewig rus swaar op die kruk wat hy oral saam met hom moet vat.

“Ons almal soek ’n meisietjie om warm te hou, maar wie gaan tog vir my wil hê,” sê hy moedeloos.

Skoolkinders staan oorkant die pad en fluister onderlangs.

“Voetsek!” bulder hy en swaai die kruk in die lug.

Hy sug.

“Ek wil nie meer so lyk nie.”

– Jacques Myburgh

Lees ook op Huisgenoot.com:

Kyk net Mamma se liefling! Bekendes deel kostelike kiekies van hul oulike spruite

Nuwe inligting oor vermeende ‘Rhodes-verkragter’ bekend

Huisgenoot-joernalis vertel die storie van die barmhartige Samaritaan wat sy verlore beursie terugbesorg het

Vrou praat oor jarelange gewigstryd en hoe sy eindelik 40 kg verloor het – ‘ek sou net eet en eet en eet’

Só vermy jy kaartmisdadigers se skelmstreke

Rokers let op! Hier is waarom jy vandag nog jou laaste dampie moet slaan