Die selfdoodbriefie wat Cathriona White, Jim Carrey se eksmeisie, voor haar dood geskryf het, is openbaar gemaak.

Die 28-jarige grimeerkunstenaar is op 28 September verlede jaar in ’n huurhuis in Los Angeles dood aangetref. Die voorval het glo gebeur enkele dae nadat hul verhouding verbreek is, maar bronne na aan Jim het aan TMZ gesê die paartjie het net ’n ruskansie weg van mekaar geneem.

Polisiebeamptes het vier verskillende soorte sterk medisyne en selfdoodbriefies, waarin haar beroemde eks se naam genoem word, op die toneel aangetref en nou het TMZ die dokumente bekom wat haar hartseer beskryf.

In die briefie aan Jim skryf sy: “Ek kan met ’n gebroke hart voortgaan en probeer om die stukkies terug te plaas. Ek sou kon, ek weet egter net nie of ek dit hierdie keer wil doen nie. Ek is jammer jy voel ek was nie daar vir jou nie. Ek het probeer om jou die beste van myself te gee.

Lees ook: Jim Carrey se ‘vriendin dood gevind’

“Ek weet eintlik niks van begrafnisse en daardie soort goed nie. Jy is my familie, dus sal enigiets wat jy kies, in orde wees. Vergewe my, asseblief. Ek is bloot nie vir hierdie wêreld gemaak nie.”

Volgens die amptelike dokumente het die polisie ’n boodskap op Cathriona se foon gekry wat van Jim af kom, waar hy vra waar die pynpille vir sy rug is, aangesien hy dit nie in sy badkamer kry nie.

Volgens ’n verslag wat deur die kantoor van die distrikslykskouer van Los Angeles uitgereik is, is sy dood as gevolg van ’n oordosis van verskeie voorskrifmedisynes, insluitend Zofran, ’n middel teen mislikheid, die beta-blokkeerder Propanol, die pynstiller Percocet en Ambien, ’n slaappil.

Volgens TMZ het Cathriona in 2012, kort nadat haar pa oorlede is, probeer om haarself om die lewe te bring. Sy is op dieselfde datum, presies drie jaar ná sy dood, oorlede.

Jim, wat sedert 2012 af en toe met Cathriona uitgegaan het, was ’n slippedraer op haar begrafnis in Ierland, haar geboorteland. Ná haar dood het Jim ’n verklaring op Extra uitgereik waarin hy sy verdriet oor haar heengaan uitgespreek het.

“Ek is geskok en diep bedroef oor die heengaan van my dierbare Cathriona,” het hy begin. “Sy was ’n werklik goeie en delikate Ierse blommetjie, te sag vir hierdie aarde, vir wie liefhê en om liefgehê te word, al was wat belangrik was.”

© Cover Media