Sy het gister saam met haar ma en ouma die hele Kaapstad verken, sê Jaydeen Faro (16). Hulle het ’n toerbus gehaal, Kaapstad platgery en was by die akwarium.

[caption id="attachment_127760" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Jaydeen veg verbete teen kanker en het verlede week besluit om haar behandeling te staak. Foto: Verskaf[/caption]

“Ek het ook ’n sak gekoop en ’n hempie en ’n horlosie,” sê die opgewekte tienermeisie van Okiep noord van Springbok.

Ongelukkig is die kans goed dat dit een van die laaste kere sal wees dat die Namakwalandse tiener die Kaap kan verken. Sy veg ’n verbete stryd teen kanker en het verlede week besluit om haar behandeling te staak, want sy is nie meer bang vir die onsekere toekoms nie.

Sy en haar gesin stel nou hul vertroue in hul geloof en sy is klaar met die dreinerende behandeling wat haar moeg, siek en afgetakel laat voel, vertel sy telefonies aan Huisgenoot.

“Ek het niks meer pyn nie, Tannie. En ek voel baie beter,” sê sy oor die besluit om alle behandeling te staak. ’n Kwaadaardige bindweefselgewas is in November verlede jaar by Jaydeen gediagnoseer nadat sy van maagpyn en hardlywigheid gekla het, vertel haar ma, Riekie.

“Toe ons die uitslag kry, het die dokter bevestig die kanker val haar sagte weefsel aan. Dis in haar borste, lewer en ander sagte weefsel,” vertel sy.

[caption id="attachment_127762" align="alignnone" width="599"]Foto: Verskaf "Om jou kind te sien ly, is aaklig," sê Jaydeen se ma. Foto: Verskaf[/caption]

Nadat chemoterapie en bestraling onsuksesvol was en die dokters gesê het dit lyk nie asof die behandeling die kanker keer nie, het Jaydeen besluit tot hier toe en nie verder nie.

Lees ook: Ouers maak hart oop oor seldsame siekte wat kleuters met aanhoudende beroertes laat

“Dit gaan nou goed met my. Ek is gerusgestel en glad nie bang nie,” sê sy moedig.

Haar ma en geliefdes ondersteun haar besluit, maar wil knak by die gedagte dat Jaydeen dalk binnekort nie meer daar sal wees nie. “Dis baie moeilik vir ons, maar soms moet jy die sinnetjie hoor wat jy nie wil hoor nie. Die Here het met my kom praat,” vertel Riekie.

“Ek is eintlik verlig. Om jou kind te sien ly, is aaklig; sy het so vreeslik siek geraak van die chemoterapie en bestraling.”

Omdat sy so siek is, kan sy die hele 2016 nie skoolgaan nie en bring sy nou soveel moontlik tyd saam met haar geliefdes deur.

“Die dokter het gesê ons sal binne ’n maand kan begin sien of haar liggaam verder afgetakel word,” sê Riekie. “Niemand weet wat nou gaan gebeur nie, maar ons is voorbereid op enige iets.”

Lees ook op Huisgenoot.com:

Is hierdie dalk Bobby se grootste aanhanger?

Jy sal nie glo hoekom kannetjie sy pa by die polisie aangekla het nie!

Wanhopige ma se geskenk vir haar siek kind gaan jou hart breek

Pa neem ma se rol vir ’n dag oor – en besef vinnig waarvoor hy hom inlaat

Groot nuus oor Gerhard Steyn se piepklein Zardi