Die oormatige gebruik van alkohol, veral bier, kan ernstige gewigstoename veroorsaak. ’n Glas bier kan tot 668 kilojoules bevat en daardie kilojoules kan dikwels tot duisende toeneem vir ’n alkoholis.

’n Gebruiker van die besprekingswebtuiste Reddit was ’n alkoholis wat vetsugtig geword het en besluit het dit is tyd om die verslawing te laat staan en sy lewe om te keer. Binne ’n jaar was hy onherkenbaar.

alcoholisclost

“Klamsykrawl” het sy storie gedeel en geskryf:

“Ek het langer as ’n jaar beplan om op te hou. Elke dag was aaklig. Elke dag was ek ’n goor man en pa. Ek het in elk geval gedrink. Elke oggend was aaklig. My ritte werk toe was gevul met selfhaat en greintjies hoop om beter te raak. Ek het later ’n datum in my kop gestel en beplan om daarby te hou. Ek het vir niemand gesê nie. Daardie dag het gekom en ek het nie gedrink nie.”

Hy voeg by hy het in hierdie tyd ontsettende angs ervaar en dit het hom uiters rusteloos gemaak. Eendag trek hy toe sy drafskoene aan en gaan draf sowat 1,6 km in sy buurt. Min het hy geweet dit is die begin van sy reis na nugterheid en verslanking.

“Die volgende dag het ek met ’n drafprogram begin wat agt weke duur. Dis wonderlik. Ek beveel dit sterk aan. Ek het my beseer en moes ’n blaaskans neem en oor begin. Maar ek kon die vordering in my liggaamskrag, kardiovaskulêre gesondheid en geluk sien. En . . . ek het nie gedrink nie.

“Ek het iets gekry waarvan ek hou om te doen -- wat nie drink was nie -- en dit het my gesondheid verbeter. My bloeddruk het gedaal van hoog na amper laag in ’n kwessie van ’n maand. Dit was ongeveer die tweede maand van nugter wees,” het hy gesê.

Ná maande van draf en nie drink nie het hy 20 kg verloor voor hy tot die volgende stap oorgegaan en begin gewigte optel het. Maar sy grootste prestasie was toe hy drank kon weerstaan en nie meer sleg voel nie.

“My vrou drink steeds wyn en ek sweer wanneer sy ’n bottel oopmaak, kan ek amper die aroma na my neus toe sien aansweef soos in ’n strokiesprent. Haar drinkery pla my nie. Dis nie die wêreld se probleem dat ek ’n probleem het nie. Ek moet my probleme soos ’n groot seun oplos.

“My drankkabinet is steeds vol wyn en my yskas vol bier. Die enigste verskil is ek drink dit nie. Dis koel, want ek het drankies om vir gaste aan te bied wanneer hulle kom kuier. My kinders sal nie grootword met die idee dat drink normaal is, soos ek het nie. Alkoholisme loop in my familie. Ek gaan die ketting breek; die siklus. Vir my, vir my kinders. Drink is nie koel nie.”

Hy het sedertdien 24 kg verloor.

Bronne: Reddit, Viral Thread