’n Brit het die pynlike laaste oomblikke van sy vrou se lewe deurgemaak – terwyl hy hulpeloos oor die telefoon geluister het, 11 000 km daarvandaan op ’n Indonesiese olieboor.

Die Daily Record berig Darron Smith (35), wat besig was met kontrakwerk op ’n olieboor by Batam-eiland, het uitgevind sy vrou, Anna (37), moes Saterdag inderhaas na ’n hospitaal in Skotland gaan.

Dokters by die Gilbert Bain-hospitaal op die Shetland-eilande het ontdek dat Anna aan ’n voorheen ongediagnoseerde hartkwaal gely het, en hulle het gereed gemaak om haar na die Skotse vasteland oor te plaas vir spesiale sorg. Maar 24 uur later het haar toestand ’n noodlottige wending geneem. Daar was ’n geskeurde klep in Anna se hart nadat sy deur twee massiewe hartstilstande is.

Welwetende dat die ma van sy dogter dalk nie sal oorleef nie, het Darron in direkte telefoonkontak met Carolyn, sy skoonma, gebly terwyl die dokters tevergeefs gespook het om Anna se lewe te red.

“Ek het gehoor hoe my ma, Carolyn, sê: ‘Is sy weg?’ en hoe die mediese span dit bevestig,” het hy gesê.

Darren was vyf vlugte en twee dae later terug by die huis met sy vierjarige dogter, Ava.

"Ava hanteer dit partykeer baie beter as ek, maar kinders van daardie ouderdom het ’n merkwaardige vermoë om reguit te praat en te vertel wat gebeur het,” het hy aan Mail Online gesê.

"Ons sal Anna se dood verwerk soos Ava dit die beste vind."

Darron is nie spyt dat hy sy vrou se laaste oomblikke aan die ander kant van ’n telefoonlyn moes meemaak nie.

“Dit was pynlik dog vertroostend om daar te wees, al was dit duisende kilometers ver aan die ander kant van die telefoonlyn.“

Bronne: Daily Record, The Mirror, Mail Online