My naam is David en ek is ’n dwelmslaaf.

Ek het 35 jaar lank dwelms en alkohol gebruik.

Twintig jaar lank was dit vir my die oplossing.

Wanneer ek dit gebruik het, het ek beter gevoel oor myself. Ek kon beter ontspan en pret hê; ek het nader gevoel aan mense. Ek kon met hulle gesels en vriende maak, pleks van geïntimideer voel. Dit het gevoel asof ek deel was van iets.

Skielik was die dwelms nie meer so doeltreffend nie, maar toe kon ek nie ophou daarmee nie.

Ek het die volgende 15 jaar alles probeer. Ek was in en uit by rehabilitasiesentrums en psigiatriesale. Ek het ibogaïen, slaapterapie, metadoon, Suboxone, akupunktuur, aku-aanraking, psigoterapie, hipnose, kruie en aminosuuraanvullings beproef. Ek was selfs drie weke lank in die Diepkloof-gevangenis. ’n Mens sou kon dink ’n wit seun uit die middelklas sou daar genoeg skrik om ’n bietjie verstand te kry.

Ek het dit altyd reggekry om vir ’n kort rukkie op te hou of soveel minder te gebruik dat ek kon glo ek is in beheer. ’n Tydjie lank sou ek beheer hê, maar die dwelms sou vroeër of later oorneem en ek sou in ’n hengse gemors beland, platsak en alleen. Op die een of ander manier het ek my altyd tot dwelms gewend, al kon ek nooit verstaan hoekom nie. Ek was verstom en verslae. Ek het die hele tyd geweet ek wou en moet ophou, maar ek het nie geweet hoe nie.

As kind was ek ellendig en ongelukkig. My ouers het heeltyd baklei en my pa het ’n verskriklike humeur gehad. Hy was ook ’n dominee, dus moes ons, ten spyte van die chaos tuis, aan die res van die wêreld die prentjie van ’n volmaakte en gelukkige gesin voorhou.

Lees ook: ‘My seun, die hamermoordenaar’: verslae ma maak hart oop

Van jongs af is ek geleer voorgee en om my gevoelens weg te steek.

Later, toe ek besef ek is gay, het dit erger geword. Tydens die apartheidsjare was dit seker die grootste sonde in Suid-Afrika. Ander mense se opinie het my laat dink daar is fout met my. Tot in my 20’s het ek dié geheim stilgehou; ek kon myself nooit uitleef of naby mense kom nie.

Op die ouderdom van 12 jaar het ek vir die eerste keer sterk drank gebruik en teen 15 het ek taamlik gereeld gedrink maar nie oormatig nie. Dit het my selfvertroue gegee. Ek was wel selde dronk, want ek het die gevoel gehaat. In die weermag het ek gereelder gedrink; almal het dit gedoen. Ek het myself altyd as ’n matige drinker beskou, hoewel ek feitlik elke dag gedrink het.

Op universiteit het ek begin dagga rook en ernstig begin partytjie hou. Dit was vir my ’n nuutjie, veral as ’n mens my konserwatiewe, kleindorpse agtergrond in ag neem. Ek het die ondergrondse wêreld van die punks ontdek en dit het my soos ’n handskoen gepas. Ek het ook nou betrokke geraak by anti-apartheidspolitiek.

Ná drie jaar het ek opgeskop.

Vyf jaar later het ek beland in Johannesburg, waar ek ontdek het daar is hope ander “fratse” soos ek in die wêreld. Ek het in Hillbrow ’n boekwinkel met strokiesprente en speletjies oopgemaak. Tog het my lewe om partytjies en klubs gedraai, en ek het by klubs begin dwelms gebruik. Al het ek ontdek dis oukei om gay te wees, was ek steeds vreesbevange vir intimiteit.

Ek het hope vriende gehad, en ek het dwelms gehad. Hulle was my troos vir die gebrek aan intimiteit. Al was my lewe chaoties, was dit steeds beheerbaar. Ek kon nog elke dag werk toe gaan en na myself kyk. Ek het nie geglo daar was enigiets verkeerd met my leefstyl nie; dit was pret.

Toe ontdek ek heroïen. Dit was liefde met die eerste proeslag. Binne die bestek van ongeveer ’n jaar het my verslawing gevorder van net oor naweke tot elke dag se gebruik. En net daar het die pret opgehou; heroïen het die belangrikste ding in my lewe geword. Niks anders het saakgemaak nie. Ek het by die werk begin steel, my besittings verkoop en vir my vriende en familie gelieg.

Net daar wou ek aanstaltes maak om op te hou en toe uitgevind ek kon nie. Dit het nog vyf jaar van hel geverg, insluitend tyd in die tronk, tot ek gereed was om op te hou. Ek is terug na my ouers toe in Oos-Londen en het na ’n psigiatriese hospitaal gegaan vir behandeling.

In Oos-Londen was ek drie jaar lank skoon.

Op 42 het ek weer begin studeer. Ek het ’n stil lewe gehad en alles het om my studies gedraai. Ek was wel steeds enkellopend en gefrustreerd. Toe herontdek ek heroïen. Dit het die leemte in my lewe gevul. Ná drie jaar was ek weer volkome verslaaf en het ek dit elke dag gebruik. Daar was tog ’n doel met my studie, maar miskien was dit nie genoeg nie.

Lees ook: Hoekom kinders met dwelms eksperimenteer

Teen die einde van my derde studiejaar was ek terug in die kringloop van lieg, bedrieg en steel. Ek het aan my ouers beken ek het ’n probleem en is weer vir behandeling opgeneem. Ná die rehabilitasie in my somervakansie is ek in die nuwe jaar terug universiteit toe. Op my eerste dag van vryheid het ek ’n sak vol heroïen aangeskaf. So het dit die volgende vyf jaar aangegaan, en die daaropvolgende vier jaar het ek my somervakansies in die rehabilitasiesentrum deurgebring.

My laaste terugslag was in Desember verlede jaar.

Pleks van ’n stadige verval soos die vorige kere het ek dadelik weer elke dag dwelms gebruik. Ook die stelery, bedrog en gelieg het van voor af begin. Skaamte en vrees het my so oorweldig, ek het drie weke lank net in my kamer gelê en bid om te sterf. Ek het net opgestaan het om dwelms te kry. Ek het geen vriende en geen aardse besittings oorgehad nie.

Eers nadat ek heeltemal weggebreek het, kon ek die ware omvang van my probleem besef. Ek het altyd gedink heroïen is my probleem, en my hele lewe lank het ek ander mense die skuld gegee vir my probleme.

In die afgelope drie maande het ek danksy intense werk op die 12-stap-program besef ek is my eie grootste probleem. Ek het nooit geleer om my emosies te verwerk nie en het dwelms gebruik om hulle te onderdruk.

Ek het nou nog ’n kans in die lewe gekry en volg ’n program waarvolgens ek kon leef en wat my in staat stel om probleme die hoof te bied soos hulle verskyn, pleks van om my tot dwelms te wend. Hieroor is ek opreg dankbaar.

Hierdie storie is deur een van ons lesers ingestuur. Dis effens geredigeer en bygewerk.

Het jy ’n treffende storie om te vertel? Of dit nou ’n ongelooflike prestasie is, ’n hartverskeurende struikelblok wat jy moes oorkom het of sommer net iets wat jou laat lag het – deel jou storie met ons en dit verskyn dalk in Huisgenoot of op ons webtuiste.

Klik hier om uit te vind hoe.

Ander stories op Huisgenoot.com:

Die porsiebeheerdieet – die dieet wat werk!

Dis wat sal help om daai kankerstokkie vir goed dood te druk

Vrou kap weens rare kwaal om as ’n deur klap

Aitsa! Die geheim agter Karlien van Jaarsveld se nuwe styl

Hoe weet jy of jou kind dalk ’n bril moet dra?