Die aanklaer Gerrie Nel het Oscar ondervra oor of hy sy vuurwapen “gerig” of “gemik” het, of hy gedink het of nie voor hy geskiet het, en hoekom hy deur die geslote deur van sy toilet gevuur het toe hy Reeva op 14 Februarie verlede jaar doodskiet.

Oscar word daarvan aangekla dat hy haar vermoor het.

Gerrie het verskeie minute ’n stap-vir-stap-ondersoek gedoen oor hoe Oscar op sy stompies in sy badkamer ingesluip en sy vuurwapen vasgehou het.

Net voor Oscar begin huil het, het Gerrie hom daarmee gekonfronteer dat sy verweer van “selfverdediging” na “ek weet nie hoekom nie” verander het toe hy gevra is waarom hy die sneller van sy 9 mm-pistool getrek en vier keer deur sy geslote toiletdeur geskiet het.

Oscar: “Ek het gedink die mens kom uit om my aan te val. Ek het nie gedink nie.”

  • Gerrie: “Het jy op die waargenome aanvaller geskiet?”
  • Oscar: “Ek het op die deur geskiet. Ek het die geraas gehoor en uit vrees geskiet.”
  • Gerrie het vir Oscar gesê hy kan nie twee verwere hê nie – skiet uit vrees en skiet per ongeluk.
  • Gerrie het voorts gesê: “Jy het op Reeva geskiet”.
  • Oscar het huilend gesê: “Dis nie waar nie”.
  • Gerrie: “Hoekom raak jy nou emosioneel?”

Die hof het verdaag sodat Oscar tot bedaring kon kom.

Die staat voer aan Oscar het Reeva vermoor toe hy haar deur ’n geslote deur in sy huis in Pretoria skiet.

Hy sê hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

- Sapa