Fanie du Preez het Dinsdagoggend in die Vereenigingse hof getuig oor die dag toe sy gesin in hul huis vermoor is.

Hy het getuig hy het op 2 Desember 2015 wakker geword nadat hy geluide gehoor het. Fanie het dit glo met sy vrou, Thea, bespreek en ook sy stiefpa oor die agterdeur uitgevra.

Fanie het aan die hof gesê hy het probleme met sy bakkie ondervind. Hy het glo aan Thea gesê het hy gaan die voertuig uitmekaarhaal (strip). Hy was glo tot 22:00 daarmee besig, voor hy die huis binnegaan het.

Lees ook: Tien goed wat jy sover moet weet van Fanie du Preez en die Vanderbijlparkmoorde Hy het glo vir iemand iets gaan wys, waarna hy die hond, Rex, in sy seun, Philip, se kamer toegemaak het. Fanie het na bewering vir Thea gesê hy voel nie lekker nie. Hy het sy sigarette geneem en weer koers gekies na die motorhuis.

Dit was glo juis toe hy tot 01:30 op 3 Desember 2015 weer aan die bakkie werk dat hy ’n geluid hoor; soos iemand wat op ’n plastiekdrom slaan.

Fanie het aan die hof gesê hy het sy vrou die skuifdeur sien oopmaak. Sy het Rex uitgelaat. Hulle kon mekaar sien.

Hy het toe verwys na die Libanees wat na bewering in die motorhuis was en ’n vuurwapen op hom gerig het. Hy het hom glo daarmee die huis in gedwing.

Thea was in hierdie stadium in die gang en het hom gevra wanneer hy sou kom slaap. “Netnou,” het hy volgens sy getuienis geantwoord.

Dit alles met die Libanees wat hom na bewering steeds agtervolg het. Hulle is terug na die motorhuis, waar Fanie glo gevra is om “bokse vol goed” vir hulle af te lewer. Hy het ingestem. Daar was glo swart stopverf (putty) in die bokse.

Fanie het aan die hof gewys waar die .38-vuurwapen gelê het. Hy het dit glo geskuif toe hy sy sigarette wou kry.

Hy het teruggekeer na die slaapkamer en die kamerlig aangeskakel. Dis toe dat hy glo sien Thea is vol bloed.

Toe hy hom haas na sy kinders, Carlia en Philip, se kamers, het hy gesien hulle is ook doodgeskiet.

Fanie het instemmend geantwoord toe regter De Vos vra of die Libanese dus daarvoor verantwoordelik was.

Daarna is hy inderhaas na sy ouers se woonstel op dieselfde erf. Hy het sy ma gevra om Rescom en die ambulans te bel, maar sy kon nie die ambulans in die hande kry nie. Fanie het toe self die noodnommer 10111 gebel.

Fanie het getuig dit was nie hy wat sy gesin uitgewis het nie.

Met die polisie se aankoms het Fanie ’n verklaring afgelê dat die gesin van hul vuurwapens beroof is. “Ons is beroof, maar die tragedie is dat drie mense in die rooftog dood is,” het hy Dinsdag in die hof gesê.

A.o. Alberts het by die toneel opgedaag. Hy het glo daarop aandring dat Fanie ’n verklaring aflê. Fanie het geweier en aangedui sy ore sing. Hy is toe na die polisiestasie geneem om sy verklaring af te lê. Toe Fanie terugkeer huis toe, het hy gehoor die vuurwapens is gevind.

Die handskoene wat gevind is, is volgende bespreek. Fanie het verduidelik die groen handskoene is vir olie- en ghrieswerk gebruik, die oranje paar het hy vir toue in sy bakkie gehou en die swart paar was vir die tuin.

Fanie gebruik glo handskoene omdat sy hande vir hom belangrik is. Die fokus skuif toe na sy verhouding met sy gesin. Fanie bestempel dit as ’n “algemene verhouding”.

“Carlia was my oogappel. Philip was anders; as sy sussie iets kry, wou hy dit beter hê,” het hy voorts gesê.

Adv. Erik van der Merwe het Fanie kruisondervra. Al was Fanie en Thea 20 jaar getroud, hou hy vol hy het niks van haar lewenspolis geweet nie.

Erik het Fanie uitgevra oor wat hy na bewering onder dwang gedoen het en gesê Fanie was “nes sy vrou en kinders ’n onskuldige slagoffer” en dat hy eintlik niks gedoen het nie.