Hier is Henri van Breda se volledige verklaring.

In die verklaring noem Henri dat hy kon hoor hoe iemand sy ma aanrand.

Adv. Pieter Botha (vir Henri) het betoog sy kliënt is onder meer nie van sy regte ingelig alvorens hy die verklaring afgelê het nie. Dit het tot ’n binneverhoor gelei. Vandag het regter Siraj Desai beslis die verklaring sal wel as bewysstuk dien.

Ao. André Hitchcock het Donderdag getuig tekens van bloed is in die stort van die Van Breda’s se huis gevind.

Onder kruisverhoor is Hitchcock deur Botha gevra hoe laat hy op die toneel aangekom het. Hy het aangedui dit was ongeveer 13:00. Hitchcock het aan die hof die prosedure verduidelik wat hy gevolg het om foto’s en video’s te neem.

Nadat hy eers alleen deur die huis gegaan het, het hy ’n 360-grade-kamera opgestel. Hy het wye en nabyskote geneem. Daarna het Johan Hanekom saam met hom geloop om te help met die identifikasie van bewysstukke.

Die saak word uitgestel tot Maandag, 5 Junie 2017.