[caption id="attachment_72053" align="alignnone" width="600"]Foto: Lefty Shivambu / Gallo Images Foto: Lefty Shivambu / Gallo Images[/caption]

Die dag toe sy Oscar Pistorius ontmoet, het Reeva Steenkamp vir haar gesê hulle moet praat.

Tot vandag toe is dit die een ding wat haar die meeste pla, dat sy Reeva nooit gevra het hoekom hulle moet praat nie.

So het Kim Martin, Reeva se niggie, vandag in die hooggeregshof in Pretoria getuig.

Kim is die staat se eerste getuie ter strafverswaring nadat Oscar verlede maand aan onder meer strafbare manslag skuldig bevind is.

Kim het Oscar ontmoet toe hy en Reeva in Januarie verlede jaar met vakansie in Kaapstad was. “Oscar se foon het gelui. Hy het opgestaan en weggestap. Ek het Reeva gevra of sy gelukkig is. Sy het haar skouers opgetrek, ja gesê, maar ook gesê ons moet praat,” het Kim getuig. Die oggend toe sy op die radio hoor Oscar het sy meisie doodgeskiet, “het ek gehoop Oscar verneuk Reeva”.

'Dit was die einde van die wêreld vir my.'

Sy is dadelik na haar ma se huis toe. Toe sy haar ma sien, het sy geweet dit is haar niggie wat geskiet is.

“Dit was die einde van die wêreld vir my,” het Kim gesê.

Sy het gesê ná Reeva se dood het dit baie sleg gegaan met haar ouers, Barry en June. Barry het onder meer beroertes gehad.

Barry het aan Kim gesê dat hy graag sou wou getuig, maar dat hy dit nie sou kon hanteer nie. “Ek is hier, want iemand moet Reeva se stem wees,” het Kim gesê.

Die saak gaan môreoggend om halftien voort.

- Hilda Fourie