Oscar se geween kon hard in die hof gehoor word.

Sy suster, Aimee, het dadelik na hom toe gegaan nadat die hof verdaag het. Carl, hul broer, was kort op Aimee se hakke. Hulle het hom in die getuiebank styf vasgehou voor hulle saam met hom uit die hof gestap het.

Reeva se ma, June Steenkamp het nie veel emosie getoon nie. Nadat die hof verdaag het, het sy gesit en gesels met die mense langs haar.

Oscar het getuig hoe hy, terwyl hy op pad badkamer toe was, herhaaldelik vir Reeva geskree het om die polisie te bel.

Hy het ook op die persoon, wat hy gedink het ’n inbreker was, geskree om uit die badkamer te kom.

In die badkamer het Oscar gesien die venster is oop en die toiletdeur is toe.

“Ek het (in die badkamer) nie geweet waar om die vuurwapen te rig nie.

“Ek het skote na die deur geskiet. Ek het ’n sagte stem gehoor, maar gedink dit is die inbreker wat wil uitkom.

“Ek het weer geskree Reeva moet die polisie bel.”

Toe Oscar nie ’n antwoord van Reeva hoor nie, het hy teruggeloop kamer toe, met sy vuurwapen heeltyd op die badkamer gerig.

By die bed het hy hom opgelig en aanhou praat met Reeva. Terwyl hy die vuurwapen in die gang se rigting gehou het, het hy met sy hand na die regterkant van die bed gevoel of Reeva daar is. Sy was nie.

Hy het toe op die grond probeer voel, want miskien, het hy gemeen, was sy daar nadat hy haar vroeër aangesê het om plat te lê.

“Ek het begin besef dit was dalk Reeva in die toilet.”

Oscar het eers by die balkon se gordyn gaan voel of sy nie daar wegkruip nie. Sy was nie daar nie.

Hy het badkamer toe gehardloop en aan die deur gevoel. Dit was gesluit. Hy is terug kamer toe en het op die balkon om hulp gaan skree.

Oscar het sy prostese aangesit en badkamer toe gehardloop. Hy het die deur probeer oopskop, maar kon dit nie regkry nie.

“Ek het nog nooit so baie geskree en gehuil nie. Ek het die Here aangeroep en gesmeek Hy moet my help. Ek het na Reeva geroep.”

Oscar het die krieketkolf gegryp en ’n gat in die deur geslaan. Hy het die sleutels, wat aan die binne kant van die deur was, gegryp en die toiletdeur oopgesluit. Dis toe dat hy op Reeva afgekom het.

“Ek weet nie hoe lank ek daar gestaan het nie,” het hy getuig.

Dit is toe dat Oscar onbedaarlik begin huil het.

Nadat die hofverrigtinge hervat is, het adv. Barry Roux gevra dat die verhoor tot môreoggend uitgestel word omdat hy nie van Oscar kan verwag om vandag voort te gaan nie.

- Hilda Fourie