Die 38-jarige Amerikaner van Hillsville, Virginië, is nou so anoniem soos enigiemand anders en dis hoe hy daarvan hou.

“Niemand kyk meer twee keer na my nie,” sê hy in ’n onderhoud met Associated Press. “As hulle my nie persoonlik ken nie, weet hulle nie ek is ’n gesigsoorplantingspasiënt nie.”

Richard het sy gesig vernietig toe hy homself 15 jaar gelede per ongeluk geskiet het. Hoewel ’n reeks operasies sy gesig probeer aanmekaarlap het, was hy steeds erg vermink en sonder ’n neus, tande, die grootste deel van sy boonste en onderste kakebene en ’n gedeelte van sy tong.

Verlede jaar het ’n span van 150 dokters een van die ingewikkeldste gesigsoorplantings uitgevoer en sy kake, tande, tong, spiere en senuwees noukeurig vervang.

In die jaar sedert die oorplanting het Richard geleidelik gevoel in sy gesig teruggekry en selfs begin uitdrukking toon. Motoriese funksie aan die regterkant van sy gesig is 80 persent normaal; aan die linkerkant is dit 40 persent.

As deel van sy nuwe lewe neem Richard, wat gaandeweg meer selfversekering kry, aanlyn lesse vir ’n graad in inligtingstelsels. Hy werk ook saam met ’n fotojoernalis, Coos Hamburger, wat onlangs ’n boek geskryf het oor sy ongelooflike reis, The Two Faces of Richard.

Ná 16 jaar kan Richard homself eindelik weer herken. “Wanneer ek in die spieël kyk, sien ek Richard Norris,” sê hy.

-      Faiza Mallick

BRONNE: dailymail.co.uk, richardleenorris.com, Huffingtonpost.com, Washingtontimes.com. news.yahoo.com, newscientist.com, thetwofacesofrichard.com, abcnews.go.com, nbcnews.com, umm.edu