Die pa van klein Poppie van der Merwe, wie se stiefpa haar na bewering doodgeskop het, sê hy en sy vyfjarige seuntjie staan mekaar by in die hartseer tyd ná sy blonde dogtertjie se grusame moord.

“Ek het nie woorde nie,” het Christo van der Merwe snikkend oor die foon gesê.

Die driejarige Poppie, van Brits, se dood, na bewering aan die hand van haar stiefpa, Kobus Koekemoer, het mense landwyd geruk. Hy het haar na bewering herhaaldelik geskop en is op 23 Oktober in hegtenis geneem.

“Ek is geknak, emosioneel en finansieel,” sê Christo, ’n dieselwerktuigkundige van Westonaria. “Ek hou my oë gevestig op God. Ek en my seuntjie ondersteun mekaar in hierdie tyd.”

Huisgenoot het vroeër berig die lykskouing is nog nie afgehandel nie, maar volgens lt.kol. Pelonomi Makau, provinsiale polisiewoordvoerder in Noordwes, het Poppie beserings aan haar hele lyf opgedoen en is met haar aankoms by die Brits-hospitaal dood verklaar.

“Ek glo die Here sal ons help. Dis vir ons ’n baie donker tyd,” het hy in ’n hees stem vertel.

Poppie se begrafnis word Vrydagoggend vanuit die Hervormde kerk op Westonaria gehou.

Intussen is Kobus steeds in aanhouding. Hy sal na verwagting Donderdag weer in die landdroshof op Brits voorkom.