Nadat daar aanvanklik vermoed is hy ly aan jeugartritis, is fase-4-neuroblastoom in Augustus by die vierjarige Aleem Binder gediagnoseer.

Sedertdien het sy ma, Kaneez, uit haar werk as menslikehulpbron-winkeladministrateur bedank om haar seun voltyds te versorg en terselfdertyd haar sewejarige dogter, Kamielah, skool toe te neem en weer te gaan haal. Aleem weier om op te gee en hou sy kop omhoog. “Ek gaan nie doodgaan nie,” sê hy vir die mense om hom.

Lees ook: Dogtertjie met ernstige kinderkanker se laaste wimper ’n simbool van hoop vir haar pa

Ongelukkig het die gewas om Aleem se nier nie genoeg gekrimp dat hy ’n operasie kan ondergaan om dit te verwyder nie en hy sal in Januarie nog twee chemo-sessies ondergaan.

Lees Aleem se storie hier:

Aleem het aan die begin van die jaar beenpyn gekry en ons het hom een aand na die Rooi Kruis-hospitaal gehaas want hy kon nie sy nek kon beweeg nie. Hy het ’n lumbale punksie ondergaan en dit was negatief vir meningitis. Maar sy bloedtoetse het inflammasie aan sy gewrigte getoon. Ons het gehoor hy ly dalk aan jeugartritis. Dit was om en by Februarie en Maart.

Deur fisio te doen en sy dieet te verander het hy glad nie beter geword nie. Dit het ’n punt bereik waar hy heeltemal ophou loop het. Ek het toe vir ’n dokter by [die] Groote Schuur[-hospitaal] ’n e-pos gestuur wat met kinders met jeugartritis werk en hy het ingestem om ons so moontlik te spreek. Ons het op 17 Augustus vanjaar met hom vergader en hy het ons reguit na die Rooi Kruis-hospitaal gestuur vir opname. Net die volgende dag het dokters vir my gesê: “Ons verskuif jou seun na die kankersaal.”

Lees ook: Wees bedag op die tekens van kanker by kinders

Ek kan nie vir jou sê hoe dit gevoel het nie, want daar is geen woorde om te beskryf hoe ek gevoel het nie. Dit was die slegste dag van my lewe. Maar ek moes sterk bly vir hom. Nadat al die toetse gedoen is, is fase-4-neuroblastoom op 29 Augustus by hom gediagnoseer. Fase vier – die vrae wat ek gedink het, maak te seer om eens uit te druk. Daardie een vraag is altyd in my gedagtes, dit verlaat my nooit nie – gaan ek my seun begrawe?

Hy het sover drie keer chemo gekry en vaar baie goed. Hy raak nie eintlik siek nadat hy chemo gekry het nie. En hy het weer begin loop en hardloop, wat wonderlik is ná so ’n kort tyd. Hy verstom my elke dag. Dit is die slegste tyd van my lewe, maar dit laat my die lewe en tyd selfs meer waardeer. As jy Aleem ontmoet, sal jy nooit sê hy is siek nie. Hy is elke dag my sonskyn.

Volg Aleem se reis op Facebook.