“Ek is so verlig dat my meisiekind gevind is, ek dank die Here dat hulle veilig is,” het Anna Coetzee, die ma van Patricia (15), een van die meisies, vanoggend aan Huisgenoot.com gesê.

Sy was rasend van bekommernis nadat Patricia en haar vriendin Anneke Swart (16), ook bekend as Amy, verlede week spoorloos verdwyn het.

“Ek is verskriklik bekommerd oor my meisiekind,” het Anna Coetzee vroeër die week (22 Februarie) ook aan huisgenoot.com gesê.

Patricia is verlede Maandag (13 Februarie) saam met Amy na die huis waar Amy en haar ouer suster woon. Na talle onbeantwoorde oproepe en SMS-boodskappe het Anna Patricia Maandagaand as vermis aangemeld.

Die twee meisies is na bewering verlede Woensdag (15 Februarie) die laaste keer gesien, saam met ’n jong man in ’n wit motor.

Kol. Verna van Staden van die Krugersdorpse polisiekantoor het bevestig die twee meisies is in Berea in die middestad van Johannesburg opgespoor en na Krugersdorp toe teruggeneem.

“Johannesburg is bekend vir sy dwelmhandel en prostitusie en is ’n baie gevaarlike area vir jong meisies,” het sy verduidelik.

Die polisie ondersoek die aangeleentheid.