Ondanks die effense kouer weer die afgelope naweek word matige tot warm weer dié week landwyd verwag.

weerprentjie

Die enigste reën wat vir môre (28 Maart) voorspel word, is aan die suidkus van die Wes-Kaap en die kusdele van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal weens ’n kouefront wat vanaand daar verbybeweeg.

Die reënweer sal na verwagting teen Woensdag (29 Maart) na oostelike dele van Mpumalanga oorbeweeg.

’n Tweede kouefront sal Vrydag (31 Maart) sorg vir nog ligte reën aan die suidwestelike en suidelike kusstreek van die Wes-Kaap en ook aan die kusdele van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Geen reën word elders in die land verwag nie.

Die Wes- en Oos-Kaap sal na verwagting effens koeler wees danksy die kouefront, maar maksimum temperature sal steeds in die hoë 20’s bly.

Teen Woensdag (29 Maart) kan die Noord-Kaap erge hitte verwag, van tot 36 grade Celsius, en die warm weer sal Donderdag (30 Maart) na dele van die Wes- en Oos-Kaap versprei.

Venetia Phakula, voorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, meen die koeler minimum temperature is ’n aanduiding van die oorgang na herfs en winter.

“Met die winter net twee maande ver, sal die temperature stadig maar seker begin daal,” het sy aan huisgenoot.com gesê.