Dis heel gepas dat die "Prinses van Harte" se uitstalling, getiteld Diana: Her Fashion History, in die maand van liefde gaan plaasvind.

A photo posted by voguethailand (@voguethailand) on

Dinsdag het Kensington Paleis aangekondig 24 Februarie 2017 is die dag waarop daar weer hulde aan een van die wêreld se gewildste én mees-gefotografeerde vroue gebring gaan word. Die uitstalling gaan by die paleis self plaasvind, ’n plek wat 15 jaar lank haar huis sou wees.

Wie sou kon raai dat hierdie meisie eendag soveel lewens ingrypend sou verander?

Prinses Diana was soos ’n verkleurmannetjie. Sy was aanvanklik die bedeesde mooi prinses met haar skaam glimlaggie wat altyd so aks agter haar man in die openbaar moes beweeg; die oënskynlik-sorgelose ma wat met haar pragtige twee seuns teen die ski-hellings en op pretritte rondbaljaar het; die stylvolle vrou wat wêreldwyd ’n ikoon vir talle geword het; die vrou wat stigmas ignoreer het en vigswesies teen haar bors vasdruk; die vrou wat vreesloos gebiede besoek wat besaai is met landmyne wat nog steeds onder die oppervlak wegkruip - gereed om die volgende wese wat daarop trap se lewe te eis of minstens te vermink.

Vir iemand wat sedert haar verbintenis met prins Charles bekend geraak het, deurentyd onder die mikroskoop beloer is, kon dit nie ’n maklike lewe gewees het nie. Maar wat sy deurentyd gehandhaaf het, was haar groot liefde vir haar kinders, die liefdadigheidsorganisasies waarby sy passievol betrokke was en haar onbetwisbare styl.

’n Jong Diana voordat sy haar in die koninklike gesin begeef het.

KYK: Pragtige prinses Di - 19 jaar weg, maar steeds in ons hart – kyk ons fotoverhaal Van die items wat uitgestal word, is daardie bekende pienk Emanuel-bloes wat sy vir haar verlowingsportret deur Lord Snowdon in 1981 gedra het.
Voorheen het prins Charles met Diana se ouer suster, Sarah (links op die foto hieronder), uitgegaan. Diana het toe reeds ’n foto van die prins bo haar bed in die koshuis gehad. "Ek sou graag ’n danser wil word - of die prinses van Wallis," het sy glo as jong meisie vir een van haar klasmaats gesê.

Toe gebeur byna die onmoontlike. Nie alleen word sy die prinses van Wallis nie, maar haar indrukwekkende danspassies met John Travolta tydens ’n byeenkoms in die Amerikaanse Withuis, het talle verstom gelaat. Die inkblou fluweelrok gaan ook uitgestal word.

Dié groen gunsteling, wat sy tydens ’n besoek in die 80’s aan Venesië gedra het, gaan deel uitmaak van die huldeblyk. Dit gaan boonop die eerste keer wees dat een van haar dag-uitrustings, en spesifiek hierdie een, aan die publiek gewys sal word. Dit is ook een van die min daguitrustings wat gevind kon word en is onlangs by ’n veiling aangeskaf.

As deel van die huldeblyk gaan daar ook ’n spesiale tuin aangeplant word met blomme en plante wat haar lewe en styl sal uitbeeld. Dit sal as ’n "wit tuin" bekend staan wat met speelse vergeet-my-nietjies, elegante tulpe, tradisionele wit Engelse rose, madeliefies en ornamentele gras gekombineer gaan word.

"Ons hoop om hierdeur haar energie en dit wat van haar so ’n gewilde figuur wêreldwyd gemaak het, vas te kan vang," het Sean Harkin, tuinspanleier van Kensington Paleis, gesê.

Bronne: hrp.org.uk, vogue.co.uk