In die nuwe animasiefliek Moana – met liedjies wat beloof om oorwurms te word – neem die 16-jarige Moana Waialiki (uitgespreek Mo-ah-na) kykers op ’n avontuurryke seereis.

’n Paar uittreksels is gewys by die onlangse Comic-Con-saamtrek in San Diego, Amerika.

Op ’n vraag uit die gehoor oor wat hierdie Hawaii-prinses anders maak as voriges in Disney-flieks, het een van die regisseurs, John Musker, geantwoord: “Moana gaan op ’n heldereis. Daar is geen romanse in hierdie prent nie. Sy is haar eie held en laat nie toe dat iemand anders haar identiteit vorm nie.”

In een van die voorskou-uittreksels “ontmoet” Moana as baba die oseaan, een van die belangrikste karakters in die fliek. Die gehoor was gefassineerd met hoe die water beweeg en op haar reageer; dis pure Disney-towerkrag.

“Moana het baie durf,” meen Auli’i Cravalho, ’n boorling van Hawaii wat haar stem verleen aan die hoofkarakter. “Sy is moedig en ook mooi.”

Auli’I (15) hoop ook kykers sal die karakter as heldin eerder as prinses sien. Die groentjie sê daar is ’n paar ooreenkomste tussen haar en Moana: “Ek is geneig om baie en vinnig te praat, en in sommige tonele is daar ’n bietjie van ’n oormatige, deurmekaar geklets. En Moana vat baie aan haar hare, iets wat ek ook doen wanneer ek senuagtig is.” In ’n ander voorskoutoneel wat op onder meer YouTube gesien kan word, sien ’n mens hoe Moana kennis maak met Maui, ’n semi-god van die wind en see wat van vorm kan verander. Dwayne “The Rock” Johnson – wie anders? – verleen sy stem en ’n tikkie van sy persoonlikheid aan hierdie vermaaklike karakter. Boonop sing hy een van die liedjies. Op Twitter spot @TheRock met homself: “I just tried not to screw it up.”

Hy kry ook darem kans om sy WWF-vernuf in te span wanneer hy met vishoeke teen die demoon van aarde en vuur baklei. Oor sy karakter sê Dwayne: “Hy is baie selfversekerd en het byna al die natuurlike bronne ontdek wat ons vandag geniet. Hy is gewoond daaraan om die middelpunt van aandag te wees.

"Hy is ook baie selfsugtig en lewe net vir die belangrikste mens is sy lewe: hy self. Ek het nog nooit ’n karakter gespeel met hierdie soort persoonlikheid en hartseer diep binne-in nie.”

In flieks moedig sy karakter mense gewoonlik aan om saam te staan en die werk gedoen te kry. “Maar in dié fliek spoor Moana Maui tot groter dinge aan. Dit is so ’n pragtige en kragtige reis.” Nie net Maui se voorkoms kan verander nie; sy tatoeëermerke kry ook ’n “lewe van hul eie” en beweeg om stories uit sy lewe te vertel.

Die verhaal speel 2 000 jaar gelede in die suidelike Stille Oseaan af. ’n Wanbalans tussen mens en natuur bedreig Moana se mense en sy span met Maui saam om die eiland te probeer red. Haar beste vriend, die oulike varkie Pua, vergesel hulle. Op hierdie seereis kom hulle onder meer te staan teen die kokosneutmonster, Kakamora, en ’n reusekrap, Tamatoa.

Anders as in ander Disney-flieks praat die diere in hierdie een nie. Die Nieu-Seelandse akteur Temuera Morrison speel Moana se pa, hoofman Tui, in wie se spore sy volg. Nicole Scherzinger van Pussycat Dolls-faam verskaf die stem vir Moana se ma, Sina. En Rachel House, bekend vir haar rolle in die flieks Whale Rider en Hunt for the Wilderpeople die stem vir Gramma Tala, Moana se ouma en vertroueling.

Moana is die regisseurs, Ron Clements en John, se eerste fliek wat hoofsaaklik op rekenaars geskep is, maar Maui se tatoeëermerke is met die hand geteken.

Hul vorige flieks was The Little Mermaid en Aladdin.

Interessant genoeg gaan die fliek in Italië Oceania heet en die hoofkarakter Vaiana om verwarring met die Italiaanse pornografiese ster Moana Pozzi te voorkom.

Moana begin in November in teaters hier by ons draai.

Bronne: huffingtonpost.com, en.wikipedia.org, nzherald.co.nz, usatoday.com, seventeen.com