Dit was ’n liefde so reg uit ’n sprokiesverhaal. Hy was die sjarmante ouer man wat haar voete onder haar uitgeslaan het; sy die aantreklike, sprankelende donkerkop wat vir hom ’n tweede kans in die lewe sou gee.

Maar toe word Desiree Joseph (27) verlede jaar swanger ná ’n verhouding van langer as twee jaar met Willem de Klerk (44), seun vanoudpres. FW de Klerk, wenner van die Nobelprys vir Vrede. Daarna was niks meer dieselfde nie . . .

In haar ouerhuis op die Bolandse dorp Wellington waar sy vandag kuier, vertel Desiree hoe Willem gereeld by haar pa en stiefma gekuier en selfs oorgeslaap het. Sy wys foto’s van hulle in die gesin se albums.

Eers was hy saam met haar opgewonde oor die swangerskap, vertel sy. Maar toe word dinge lelik suur.

Soms wanneer sy gebel het, het hy nie eens meer sy foon geantwoord nie. En hy was toe nie daar toe sy die lewe skenk nie – hy was reeds met ’n ander vrou deurmekaar.

Op byna vyf maande is klein Anahita vandag ’n skattige kleinding wat so sterk op Willem trek dat niemand sou wonder wie haar pa is nie. Maar toe Desiree uiteindelik verplig word om hof toe te gaan om onderhoud te eis, het hy op bloedtoetse aangedring.

Dit was vir haar geweldig ontstellend, vertel Desiree, want daar was nie sprake van iemand anders in haar lewe nie, en

vroeër het hy nooit getwyfel dat hy wel haar kind se pa is nie.

Vandag het hy hul baba nog net een keer gesien. En verlede maand is vaderskaptoetse gedoen wat met 99,9998 persent sekerheid sy vaderskap bevestig het.

Die saak is uitgestel tot 18 April, maar Willem, ’n konsultant, is glo werkloos en platsak.

Of oupa De Klerk sal uithelp met geld, is nie duidelik nie. Hy het nog nie sy kleinkind gesien nie, maar het wel vir Desiree voorspoed toegewens met die baba.

Desiree is ’n vroedvrou by ’n hospitaal in die Kaap en sy sien gereeld jong meisies wat alleen die lewe aan hul kinders skenk.

“Ek vra altyd vir die mammas: Waar is die pa dan? Ek kon nie glo ek is toe sowaar een van daardie vroue nie. Ek is nog nooit in my lewe so verneder nie.”

Lees meer oor Desiree se stryd om vaderskap te bewys in Huisgenoot, 14 April 2011.