[caption id="attachment_152948" align="alignnone" width="600"]V838 Monocerotis, ’n onbestendige ster vergesel van ’n lig-eggo, word verkeerdelik uitgebeeld as ’n naderende planetêre voorwerp wat op ’n botsing met die aarde afstuur. Foto: Wikimedia Commons V838 Monocerotis, ’n onbestendige ster vergesel van ’n lig-eggo, word verkeerdelik uitgebeeld as ’n naderende planetêre voorwerp wat op ’n botsing met die aarde afstuur. Foto: Wikimedia Commons[/caption]

Dis nou te sê as ’n mens ’n klein maar luidrugtige groep samesweringsteoretici kan glo.

Volgens die skrywer David Meade stuur ’n geheimsinnige planeet met die naam Planeet X op ’n botsing met die aarde af en sal dit ons planeet in Oktober vanjaar tref.

Volgens MailOnline beweer hy die swerwende of sterlose planeet, bekend as Niburu, word hierheen aangedryf deur die swaartekragtrek van ’n veronderstelde “tweelingster” in samewerking met die son.

In sy boek Planet X – The 2017 Arrival, voer David aan hy het “oorweldigende” bewyse vir sy teorie en verwys na vulkaniese uitbarstings, aardbewings, sinkgate en storms.

“Die elite bou freneties ondergrondse veiligheidskelders,” skryf hy volgens die Mirror. “Hittegolwe raak feller en duur langer. Kort voor lank gaan die koeël deur die kerk wees!”

David is nie al wat oor ’n wêreldramp weens Nibiru op die lawaaiwa spring nie. Die samesweringsteoretikus Nancy Lieder van die Amerikaanse deelstaat Wisconsin het die hipotese al in 1995 die eerste keer geopper. Toe het die opvatting dat ’n swerwende planeet eendag met die aarde kan bots en die lewe hieronder uitwis soos ’n veldbrand versprei.

Maar Nasa het die moontlikheid meermale as pseudo-wetenskap en ’n poets verwerp.

“Daar is geen feitlike grondslag vir die bewerings nie,” het die ruimteagentskap in 2012 in ’n artikel op hul webtuiste gesê.

“As Nibiru of Planeet X werklik was en op ’n botsing met die aarde in 2012 afgestuur het, sou sterrekundiges dit al minstens die afgelope dekade lank nagespoor het en sou dit met die blote oog sigbaar gewees het. Duidelik bestaan dit nie.”

Die Nasa-astrobioloog David Morrison, wat die organisasie se webtuiste Ask an Astrobiologist bestuur, sê in ’n stadium het hy sowat 25 boodskappe per week ontvang wat met Niburu verband hou.

“(Dit het gewissel) van die beangste ‘ek kan nie slaap nie’, ‘ek is baie bang’ of ‘ek wil nie sterf nie’ tot die aanvallende ‘jy stel my gesin in gevaar’ en ‘as Nasa dit ontken, dan moet dit waar wees’,” het hy geskryf.

“As wetenskaplike fassineer sowel as verbaas die stortvloed vrae my van mense wat regtig bang is en blykbaar nie astronomiese feit en fiksie kan onderskei nie.”

Natuurlik hou ondersteuners van die teorie oor die Nibiru-aarderamp vol Nasa is ten volle bewus van Planeet X, maar weerhou die inligting as deel van ’n reuse wêreldwye toesmeerdery.

Bronne: dailymail.co.uk,mirror.co.uk, planetxnews.com, nasa.gov, seeker.com