Klein Elsie Movarek se een been is baie korter as die ander te danke aan ’n siekte, bekend as Proksimale Femorale Fokale Gebrek (“PFFD”), waarmee sy gebore is.

Dokters het aan haar ouers gesê hul dogter, nou vier jaar oud, het drie opsies: om haar been te amputeer, ’n prostese aan te sit of die ledemaat met 11 cm te verleng.

Vir Elsie se ma, Jackie (28) en haar pa, Matt (31) was daar egter net een keuse.

"’n Paar van die plaaslike dokters het amputasie voorgestel, en ons het dit oorweeg aansien die beenverlengingsproses so moeilik is om te verduur,” het Jackie, van Kalamazoo, in Michigan, VSA, gesê.

"Ons het onsself afgevra of dit wreed van ons is om ons dogter hierdeur te laat gaan en of dit die moeite werd is.

“Maar ons het geweet dis die regte besluit.”

Dokters het Elsie se dybeen en skeenbeen geskei en het haar toegerus met ’n toestel wat die Britse koerant The Mirror bestempel het as soortgelyk aan ’n “middeleeuse martelingstoestel, ‘die folterbank’.”

Lees ook: ‘Dokters was oortuig sy gaan nie oorleef nie,’ vertel ma van vroeggebore baba wat vandag floreer

Die uitwendige toestel is in Elsie ingeboor toe sy net drie jaar oud was. Tien penne het haar vel, spiere en been deurboor.

Elsie se vasbeslote ma, Jackie, moes die penne elke liewe dag drie keer losdraai om haar dogter se skeenbeen en dybeen van mekaar af weg te trek om so te keer dat die breuk genees.

Alhoewel die dogtertjie ontsettende pyn verduur het, was dit op die ou end haar redding.

Die proses, wat enige persoon se maag op ’n knop sal laat trek, het toegelaat dat nuwe bene, spiere en vel gegroei het en so kon Elsie se been binne vier maande geleidelik 11 cm langer raak.

"Ek het ontsettend hulpeloos gevoel,” het Jackie, wat ook ’n blog skryf oor Elsie se beproewing, gesê. “Ek was baie bly oor die vordering, maar dit was so swaar om haar huilend en in pyn te sien.”

"Ek moes eenvoudig my ma-hoed opsit en deurdruk daarmee want ek het geweet wat die uiteinde sou wees.”

Lees ook: Vreugde, moed en eindelik trane – alles binne ’n lewe van net ’n paar uur

Elsie was gedurig op medikasie vir die pyn.

Jackie, wat ook die ma van die sesjarige Mila is, het erken dat die ergste deel vir haar was om die oop wonde waar die tien penne in Elsie se been ingeboor moes word, skoon te maak.

"Dit was verskriklik erg vir haar. Dit was ontstellend vir my om te sien hoe sy daar deurgaan moes gaan, maar ons het ’n doel voor oë gehad.”

Nou is Elsie se bene ewe lank – maar die arme dogtertjie sal die aaklige proses weer ’n keer moet deurgaan.

Volgens MailOnline is daar nog steeds vertraagde groei in haar linkerledemaat en hulle sal weer uit sinkronisasie uit groei, daarom sal die proses herhaal moet word wanneer Elsie volgroei is.

Maar Jackie en Matthew reken dit sal die moeite werd wees.

"Ons wou die beste lewe moontlik aan Elsie bied en ons het gereken die beste opsie was om haar been te verleng.”

Bronne: The Mirror, MailOnline, The Sun

Ander stories op Huisgenoot.com:

Die porsiebeheerdieet – die dieet wat werk!

Dis wat sal help om daai kankerstokkie vir goed dood te druk

Vrou kap weens rare kwaal om as ’n deur klap

Aitsa! Die geheim agter Karlien van Jaarsveld se nuwe styl

Hoe weet jy of jou kind dalk ’n bril moet dra?