Vyf dae ná ’n aanval deur twee gewapende mans op die konstruksie-en-eiendomsmagnaat Cosmas Cavaleros en ’n gevolglike hartaanval, gaan dit beter met hom.

“Ons is bly om te sê mnr. Cavaleros toon tekens van verbetering,” het Leila Daya vroeër in ’n nuusverklaring gesê. Hoewel hy steeds kritiek is, is hy in ’n baie meer stabiele toestand sedert die voorval Sondag.

Twee gewapende mans met voorwerpe wat soos pistole gelyk het, het Cosmas Sondag omstreeks twaalfuur die middag gekonfronteer toe hy sy Bentley se venster afrol om die Menlyn Main-winkelsentrum se parkade binne te ry.

“Toe twee mans vuurwapens op Cosmas en sy lewensmaat se kop rig, het hy versnel en deur die valhekke gejaag. Die voertuig het teen ’n sementpilaar gebots, wat die lugsakke laat ontplooi het. Nadat die mans juwele van Cosmas se lewensmaat probeer afneem het, het hulle gevlug."

’n Verbyganger het kardiopulmonêre resussitasie op Cosmas toegepas terwyl veiligheids- en nooddienspersoneel ontbied is.

“Namens die familie en die Cavaleros Groep wil ons ons opregte waardering en dankbaarheid betuig vir die goeie wense, boodskappe van ondersteuning en gebede wat tot dusver ontvang is,” het Leila gesê.

Die Cavaleros Groep is betrokke by groot eiendomsontwikkelings, en hotelle soos die Maslow en Hilton is deel van hul portefeulje. Die groep besit eiendom in Eastgate Office Park, Sandton, die Village View-sentrum in Bedfordview en Norwood-winkelsentrum.

Netwerk 24 berig kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, sê ’n saak van poging tot roof word ondersoek.