Die magnaat, wie se Twitter-naam @HiddenCash is, maar wat andersins naamloos wil bly, het geld in koeverte in die stad weggesteek en leidrade op Twitter gegee oor waar mense dit kan opspoor.

Deelnemers het reeds sowat R52 000 uitgesnuffel.

“Ek het ’n fortuin uit eiendom gemaak, maar baie mense kan nie eens bekostig om ’n huis of ’n klein condo in San Francisco te koop nie,” het die man aan time.com gesê.

“Daarom wou ek iets teruggee, maar ek wou dit so doen dat dit pret is én mense aanspoor om betrokke te raak.

“Ek hoop almal wat geld opspoor, word ’n bietjie vrygewiger en begin ook teruggee. Ek ken so baie ryk mense wat selfsugtig is en net nog en nog en nog wil hê. Wanneer kry dit end? Stop, ontspan en gee iets terug. As jy iemand anders laat glimlag, sal jy ook glimlag. Glo my!”

Sy Twitter-rekening het so gewild geword dat dit binne ’n week 50 000 volgelinge gelok het. Skattejagters het reeds op geld afgekom op onder meer parkeermeters en onder stootskrapers.

Hy mik daarna om mettertyd landwyd ’n sessyferbedrag weg te gee.

– Christiaan Boonzaier