Waarskuwing: Grafiese fotos mag sensitiewe kykers ontstel

’n Perd is wreedaardig vermink en doodgemaak op ’n plaas buite Mokopane in Limpopo.

“Dit is absoluut grusaam,” sê Marcelle Maritz, bestuurder van die Percy Fyve-dierebeskerminngsvereniging (DBV) op Mokopane.

“Ons vermoed dit is vir moeti-doeleindes gedoen, want net sy organe en geslagsdele is uitgesny.”

[caption id="attachment_161852" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto verskaf.[/caption]

Marcelle sê hoewel hulle die laaste tyd baie diere sien wat so vermink word, gebeur dit meestal met leeus.

[caption id="attachment_161851" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto verskaf.[/caption]

“Hulle word vergiftig en dan word kop en pote afgekap. Dit word sonder twyfel vir moetie gebruik.”

Die perd se eienaars, wat vanoggend op die dier afgekom het, is hewig ontsteld. “Selfs die perd se oë is uitgesny.”

[caption id="attachment_161854" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto verskaf.[/caption]

Marcelle het die Heritage Protection Group (HPG), ’n reservistegroep wat hul toelê op die ondersoek van landelike misdaadtonele, gevra om die saak te ondersoek. By navraag kon die polisie nie dadelik bevestig of hulle die saak ondersoek nie.

Verlede maand is donkievelle met ’n geskatte waarde van R2,25 miljoen op ’n kleinhoewe in die Brandvlei-gebied naby Randfontein gevind.

En in Januarie is altesaam 35 ontvelde donkies gekry in ’n kraal op ’n hoewe in die Twin Springs-gebied, 8 km vanaf die grens tussen KwaZulu-Natal en Lesotho.

Die donkievelle word met sout behandel en na China uitgevoer waar die gelatien daaruit onttrek en as bestanddeel in tradisionele Chinese medikasie gebruik word.