Die eienaar van die kleuterskool in Rosettenville, Johannesburg, waar ’n kleuter se hande en voete vasgebind en mond toegebind is, is aangekla, het die polisie Donderdag gesê.

“Die eienaar van die kleuterskool is van aanranding en kindermishandeling aangekla,” het kapt. Tshekiso Mofokeng gesê.

Labeeba Truter sal na verwagting Donderdag in die streekhof in Johannesburg verskyn.

Tshekiso het gesê die saak word nog ondersoek.

Die Petite Bumper Daycare het Dinsdag in die kollig gekom toe die Daily Sun berig oor die kleuter wat in die kleuterskool se badkamer vasgebind is, na bewering deur die eienaar, sodat sy kon televisie kyk.

Die kind is afgeneem en in die video probeer sy haarself bevry deur op die grond rond te wriemel tot sy tussen die toilet en die muur vassit.

Labeeba het aan die koerant gesê sy was bewus van die voorval, maar het dit nie by die polisie aangemeld nie. Sy beweer sy was nie verantwoordelik vir die mishandeling nie en het nie geweet dit is kindermishandeling nie.