Julie Campbell en haar man, Colin, van Suid-Carolina in die VSA, was vir hul wittebrood op die eiland Sint Lucia, toe hulle die ring in die water kry. Hulle het ’n foto van die ring met inligting oor die vonds gedeel en mense aangemoedig om die inskrywing verder te deel. En ís die inskrywing nie gedeel nie! Altesaam 137 687 keer, om presies te wees.

“Ons het gister ’n skat gevind op die seebodem by Sint Lucia. Die trouring is gegraveer ‘MT 12-16-2012’ en is gevind in die water by Sandals Regenecy La Toc. Dit is geel en witgoud,” lui die Engelse inskrywing. Hulle noem ook die juwelierstempel, voor hulle mense vra om die inskrywing te deel en die eienaar op te spoor.

Lees ook: Duiker vind paartjie se trouring byna vier dekades ná dit wegraak

Eindelik het die eienaars van die ring, van Suid-Afrika, met hulle kontak gemaak. Julie sê volgens die eienaars het die ring op ’n gesinsvakansie verlore geraak terwyl die egpaar en hul kinders in die water gespeel het. Die man het ’n bal na sy seun gegooi, toe die ring wegraak. Die egpaar behoort binnekort weer die ring terug te hê.

Hulle het blykbaar in ’n ander oord as die Campbells tuisgegaan, maar die ring het weens weerpatrone in die water beland by die Sandals Regenecy La Toc-oord, waar die Campbells gebly het.

Die inskrywing het ook 8 594 kommentare uitgelok. Omtrent almal was beïndruk, terwyl talle die hoop uitgespreek het dat hulle hul verlore ring sal opspoor.

“Wonderlik. Geen toeval in God se skepping nie,” het een gebruiker geskryf.