Die oorsaak van die ramp is tot nou toe nog onbekend alhoewel nuwe inligting wat Dinsdag, 5 Julie, bekendgemaak is op ’n brand dui. Volgens wat van opnames wat deur die kajuit-vlugopnemer afgelei kan word, was daar pogings om ’n brand aan boord van die gedoemde Airbus A320 te blus.

Die opnames stem ooreen met van die bevindinge wat reeds gemaak is wat dui op die teenwoordigheid van rook in die toilet en vlug-stelsel.

Wrakstukke van die voorste gedeelte van die vliegtuig wat herwin is, bevat ook tekens van skade as gevolg van hoë temperature. Roet was ook teenwoordig.

Sewe minute voordat kontak met die vliegtuig verloor is, het die vlugopnemer ’n reeks boodskappe opgeneem wat verskeie probleme aan boord aangedui het.

Die eerste boodskap wat 2:26 Kaïro-tyd gestuur is, lui glo: “Anti Ice R Window” – wat dui op probleme met die verhitting van die eerste offisier se venster.

Ses boodskappe het binne die volgende drie minute gevolg.

Nog twee dui op probleme met venster-sensors. Twee meld rook. Die laaste twee boodskappe, wat binne sekondes om 2:29 gestuur is, lees as volg: “Auto Flt Fcu 2 Fault” en “F/ctl Sec 3 Fault” wat probleme met onderskeidelik die vlieg-outomaat en die vlugbeheerstelsel aandui.

Vier minute later is die laaste sein deur die transpondeerder gestuur. Geen noodseine is gemaak nie, wat waarskynlik dui daarop dat die vlieëniers te besig was om die vliegtuig te probeer red of fisies nie in staat was om ’n sein te stuur nie. Hierdie inligting is bekend gemaak nadat daar aanvanklik gevrees was dat die vlugopnemers te erg beskadig sou wees om van enige hulp te wees. Die tweede vlugopnemer is nog besig om herstelwerk in die Franse hoofstad Parys te ondergaan. Daar is Maandag bekendgemaak dat een van die soekvaartuie, die John Lethbridge, al die moontlike menslike oorblyfsels in die aangewese soekgebied gevind het.

Die vaartuig sal al die oorblyfsels na Alexandrië, Egipte, neem waarna dit weer na die soekgebied gaan terugkeer om na nog moontlike oorblyfsels te soek.

Egiptiese en Franse forensiese personeel is aan boord om die herwinningsprosedure te monitor.

Bronne: bbc.com, channelewsasia.com, theguardian.com, independent.co.uk