WAAR hy deftig in sy swart pak voor die kansel staan, glimlag hy van oor tot oor terwyl hy op sy bruid wag om haar verskyning te maak.

Die oud-Egoli-ster Chris Linford lyk komkommerkoel op sy groot dag. Tot dusver het alles seepglad verloop – al is daar reën voorspel, bly die wolke nog weg en al word daar aan die Pretoriase hoofweg op pad na die kapel gewerk, het die 90 gaste almal betyds opgedaag.

Al een wat nog moet aankom, is sy danseres-bruid, Candice Dafel.

Skielik hoor jy net wiele op gruis knars en ’n swart Porsche hou buite stil. Die imposante houtdeure van Riverside Castle se kapel word oopgegooi en Chris (48) glimlag nog breër toe hy sy bruid sien. Sy dra ’n elegante rok van Duchess-satyn wat met ’n swart belt afgerond is. Die noupassende skepping deur haar vriendin Annie Potgieter beklemtoon haar sexy danslyf en klok dan in ’n trompetvorm met ’n klein sleep uit.

Terwyl Candice (33) haar bruidegom tegemoetstap, sing hul vriendin, die kabaretsanger Hayley C, die Simply Redliedjie You Make Me Feel Brand New.

In die lig wat deur die venster stroom, neem die twee mekaar se hande en kyk in mekaar se oë terwyl hulle regmaak om hul troubeloftes af te lê. Dis ’n gewyde oomblik tot Candice se onhebbelike humorsin die oorhand kry.

Toe eerw. Dawn Brown vra of iemand van ’n rede weet waarom die twee nie in die huwelik bevestig kan word nie, spring die bruid om en gluur die gaste gemaak kwaai aan. Almal begin lag en Chris slaak kamtig ’n sug van verligting.