Facebook kan jou baie omtrent ander mense se lewe vertel, maar min het ’n Australiese vrou verwag om uit te vind haar nuwe man is nog getroud.

Mev. Keyet het, ness baie ander pasgetroudes, haar verhoudingstatus op Facebook na “getroud” verander.

Kort ná dié blye tyding het sy ’n onverwagte boodskap gekry. “Haai, nuwe Mev. Keyet. Hoe kan jy mev. Keyet wees as ek nog mev. Keyet is? Groete, die ou mev. Keyet.”

Mnr. Keyet het die nuwe mev. Keyet laat dink dat daar lankal nie meer ’n ou mev. Keyet was nie en dat sy vorige huwelik ongeldig verklaar is. Die een wat hulle in die huwelik bevestig het, is ook dié bogstorie wysgemaak.

Ongelukkig vir mnr. Keyet het die ou mev. Keyet nog die huweliksertifikaat en ’n bietjie navorsing het getoon die huwelik was steeds geldig.

Gevolglik het die nuwe mev. Keyet haar goedjies gepak en ’n hof gevra om haar huwelik nietig te verklaar.

Mnr. Keyet het nie die hofverrigtinge bygewoon nie. “Ek dink ek het haar genoeg leed aangedoen,” het hy gesê.

- Cnet.com