’n Mens hoor dikwels die verskoning: “O, maar ek eet vir twee!” terwyl ’n swanger vrou aan ’n dubbelkaasburger en berg skyfies weglê. Dit klink dalk geregverdig, maar dis allesbehalwe! Voornemende ma’s moet hulself opvoed oor die mites en feite oor swangerskap.

Al gebruik baie swanger vroue “eet vir twee” as ’n verskoning om groter maaltye te eet, moet jy weet ooretery kan tot komplikasies tydens swangerskap lei. “Swanger vroue eet dalk vir twee, maar dit beteken nie jy moet twee keer soveel eet nie. Ooretery kan tot uitermate gewigstoename lei en dit maak jou ook vatbaar vir ander swangerskapkomplikasies,” sê dr. Nicola Rains, ’n algemene praktisyn by NHC Health Centres.

Jy is dalk soms so honger dat jy ’n os of twee kan verorber. Van sommige voedingstowwe moet jy wel meer inkry, maar jy het net sowat 1 256 kilojoules per dag meer nodig as jy ’n gesonde gewig het. Dit sal toeneem tot sowat 1 884 meer per dag in jou derde trimester.

Nicola sê: “As jy te veel veel gewig aansit tydens swangerskap, benadeel dit jou liggaam, en laat ook pyn in jou bene en rug toeneem. Dit verhoog ook jou risiko vir swangerskapdiabetes, sooibrand en hoë bloeddruk, en kan jou baba se gewig beïnvloed.”

Met swangerskapdiabetes vervaardig of gebruik jou liggaam insulien nie behoorlik nie. Dit lei tot ’n verhoging in bloedsuikervlakke. Dié soort diabetes kan die ontwikkelende baba tydens swangerskap, geboorte en ’n kort rukkie daarna benadeel. Sooibrand kan ook ’n probleem word, veral as jou swangerskap verder gevorder is. Die baba druk die verteringskanaal uit en plaas meer druk op jou derms en maag. Om meer as gewoonlik te eet vererger net die sooibrand en slegte spysvertering.

Die inname van te veel kilojoules kan ook jou baba se gewig beïnvloed. Wanneer jy te veel gewig aansit, sal jy waarskynlik die lewe skenk aan ’n groter baba. Dit kan ’n bystand vaginale bevalling of ’n keisersnee noodsaak as daar wanverhouding en langdurige kraam en/of fetale nood is.

Sue Scharf, ’n dieetkundige by NHC, sê: “Dis selfs belangriker dat ’n mens gesond eet wanneer jy swanger is, want dit wat jy in jou liggaam sit, voed jou en jou baba. Jou baba is van jou afhanklik vir genoeg voeding. Daar is stappe wat jy kan doen om al die nodige voedingstowwe in te kry sonder dat jy baie meer kilojoules eet”.

Gesondheidswenke:

  • Eet ’n verskeidenheid kosse om aan jou daaglikse behoefte vir proteïen, kilojoules, koolhidrate, gesonde vette en belangrike vitamiene en minerale te voldoen. Maak seker jou kos bestaan uit verskillende kleure, soorte en teksture.
  • Probeer so min moontlik kos eet wat meer kilojoules maar min voedingstowwe bevat, kos soos gaskoeldrank, gebraaide kos of kos met ekstra vet en suiker. Om die gesonde kilojoules in te kry wat jou baba nodig het eet liewer ’n paar voedsame peuselhappies soos laevetjogurt, neute, hardgekookte eiers, vars vrugte en slaaie soos babawortels en selderystokkies, asook laevet-brosbrode en maaskaas of hummus.
  • Beplan van jou daaglikse maaltye sodat jy makliker sal hou by gesonde eetgewoontes en kan keer dat jy gewig aansit.
  • Kosse wat na aan hul natuurlike vorm is, is die beste. Volgraanbrood of bruinrys is beter as witbrood of witrys, en vars vrugte is beter as geblikte vrugte in suikerstroop.
  • Kies gesonder vette en olies (soos olyf, canola en avokado). Eet min soetgoed, en as jy moet moet, slegs ná ’n gesonde maaltyd.
  • Geniet ’n bak tuisgemaakte springmielies, ’n tuisgemaakte vrugteskommel, gemengde neute, ’n porsie vrugte of jogurt as jy ná ete steeds honger voel.
  • Drink bedags baie water.
  • Bly ook aktief. Stap elke dag, woon ’n Pilates-klas by (met ’n behoorlik opgeleide instrukteur) of sluit by ’n voorgeboorteklas aan.

“Onthou, tydens jou swangerskap is jou baba se gesondheid en groei afhanklik van dit wat jy eet. Wanneer jy in die versoeking kom om nog ’n bord rys en hoender te eet, onthou jy eet vir ’n baba en nie ’n volgroeide volwassene nie. Die gehalte is baie belangriker as die hoeveelheid,” sê dr. Nicola Rains.

NHC Ltd is ’n medieseadministrasie-onderneming wat die NHC Medical Service Provider Network in Gauteng en Wes-Kaap en drie NHC-gesondheidsentrums: NHC Health Centre Northcliff, NHC Health Centre Honeydew en NHC Health Centre Bryanston administreer. Die naam NHC is nie ’n letterwoord nie en die onderneming staan net as NHC bekend.