Dit was ’n groot teleurstelling wat hulle nie verdien het nie, voel Thabiso Motloung (34) en Motebejane Mofokeng (36) van die span Darkies Unleashed, wat die heel eerste span was wat uitgestem is in gisteraand se SABC3 se Ultimate Braai Master - The roads less travelled.

Gisteraand se eerste episode van die tweede seisoen is verfilm op een van die Hluhluwe-Umfolozi-wildreservaat se piekniekplekke en die 15 spanne is opgedeel in drie groepe van vyf spanne wat elk kop aan kop meeding.

In die eerste uitdaging moes die spanne enige een van die geregte in die beoordelaars se verwelkomingsete namaak en alles het skeefgeloop vir die Darkies Unleashed-span. Die Darkies se braaimeester, Thabiso, sê: “Ons is onkant gevang en het nie gedink ons gaan enige van die kos wat ons vier dae gelede gehad het en wat deur sjefs gaargemaak is, moet namaak nie.”

Thabiso en sy braaimaat, Motebejane, wat al vriende is sedert hulle universiteitsdae, sê hulle het ingeskryf vir die kompetisie, want hulle “is mal oor goeie kos en hou daarvan om te eksperimenteer met kos oor die kole”.

Wat hulle die meeste bang gemaak het, was die gat wat hulle in hul band opgedoen het in die middel van nêrens en wat veroorsaak het dat hulle die hele kar moes afpak om die band te vervang.

Thabiso dink die wonderlike ding van braai is dat “dit vriende en familie nader aan mekaar bring wanneer hulle om die vuur kan staan en stories uitruil”.

Hoekom is braai so gewild? Want, sê hulle, “Suid-Afrikaners hou van die buitelewe omdat ons weer so lekker is. Om kos oor die oop vuur gaar te maak is iets wat ons voorvaders gedoen het. Dis soos om terug te gaan na jou wortels toe.”

Darkies Unleashed Q&A

Wat was die een oomblik wat julle nooit sal vergeet nie?

Die oudisies en die uitdunronde. Ons het soos masjiene gewerk in die beplanning en lewering.

En die snaaksste oomblik?

Toe ons die kameraman wat soos Jesus lyk, Danny Kodesh, met water gespat het terwyl ons ’n verfilming vir Renault gedoen het.

Wat was julle grootste vrees tydens die kompetisie?

Eerlikwaar niks; behalwe dalk om die eerste span te wees wat uitgestem word . . .

Wat was die grootste uitdaging vir die span?

Motebejane se skoonma is dood die aand toe ons in die Hluhluwe-Umfolozi wildreservaat aankom. Ons moes besluit tussen bly of teruggaan om sy vrou en familie te ondersteun.

Hoe het UBM jul lewe verander?

Ons het nuwe mense ontmoet en ’n groter waardering gekry vir kos kook oor die oop kole. En ons het geleer om uie en ander groente soos regte sjefs op te kap!

Watter span was julle grootste kompetisie?

Ons het nie eintlik aan enige een gedink as sterk kompetisie nie; ons was net toegespits op ons eie planne.

Wat is julle gunstelingvleis vir braai?

Hoender en seekos, want daar is soveel maniere waarop jy dit kan berei.