Die gemeenskapswinkel vir die eiland se sowat 21 inwoners het Vrydagaand onder diefstal deurgeloop. In totaal is sowat R4000 se goedere gegaps.

Dié spesiale Inner Hebrides-winkel was tot nou toe gewoonlik 24 uur ’n dag oop.

Dit word deur niemand beman nie en die inwoners kon goedere neem na hartelus en die geld vir goedere wat hulle koop, in ’n geldkissie los.

Dié eerlikheidspraktyk word al vir vier jaar toegepas. Nou is die eerste keer dat iets wegraak.

Dié eerlikheids- praktyk word al vir vier jaar toegepas. Nou is die eerste keer dat iets wegraak.

Bowenal is dit ook die eerste geval van ’n misdaad op die eiland in vyf dekades. Die laaste misdryf was toe ’n houtbordjie van die plaaslike kerk in die 1960’s gesteel is.

Inwoners het hul misnoeë teenoor die diewe uitgespreek, maar hou vol dit moes ’n besoekende vissersman gewees het wat die winkel se inhoud gegaps het.

Buiten lekkergoed, koffie, toiletware en battery het die boewe ook weggekom met ‘n paar van die winkelbestuurder se gebreide Canna-wolmussies.

Ná die jongste toename in misdaad het die winkel se eienaar besluit die winkeltjie sal ongelukkig nie meer heeldag oop gelos kan word nie.

Hy beskou dit as betreurenswaardig want vissersmanne wat laat-aand van die see af terugkeer, het gereeld ietsie gaan koop voordat hulle huiswaarts keer.

Die polisie ondersoek tans ’n saak van diefstal.

Bronne: Daily Mail; Telegraph