Konflik naby die ongelukstoneel het weer opgevlam.

Nederlandse militêre personeel in uniform het by die Eindhoven-lughawe in die suide van die land 40 kiste plegtig uit twee vliegtuie gelaai dit in individuele lykswaens gelaai. Tydens die somber seremonie het ’n trompetspeler The Last Post gespeel en ’n groot groep rouklaers het dit weg van die media aanskou.

Die twee ure lange seremonie is plaaslik en internasionaal op televisie uitgesaai en staan in skrille kontras teen die chaotiese, ontstellende tonele wat net ná die ongeluk afgespeel het.

Kerkklokke het die hele land deur gelui toe die vliegtuie land. Die eerste oorledenes is nog nie geïdentifiseer nie, maar van die 298 mense wat in die ongeluk dood is, is die meeste van hulle Nederlanders.

In ’n dramatiese nuwe ontwikkeling in die konflik wat die opruim en ondersoek kniehalter, het die Oekraïense owerheid gesê missiele van Rusland het twee van hul militêre vliegtuie in ’n gebied onder rebellebeheer afgeskiet. Owerhede uit die Weste blameer Rusland vir die MH17-vliegramp.

Nederland is verenig in rou en toenemende woede weens die oponthoud in die vervoer van die lyke en hoe pro-Russiese separatiste die ongelukstoneel, slagoffers se oorskot en besittings behandel het.

Die vliegtuie het vertrek van Charkif in die Oekraïne, waar kadette die oorskot voor ’n klein groep beamptes aan boord gedra het.

Sowat 1 000 naasbestaandes van die 193 Nederlandse oorledenes, koning Willem-Alexander en koningin Maxima, die eerste minister, Mark Rutte en verteenwoordigers van die ander lande in rou het die vliegtuie ingewag.

Die lyke is toe met polisiebegeleiding geneem na ’n militêre basis by Hilversum, suidoos van Amsterdam, waar forensiese kenners dit sal uitken.

Vlae van die 17 lande wat burgers in die ongeluk verloor het, het halfmas gehang. Malaysia Airlines het 11 nasionaliteite op die vlugmanifes getel, maar party het dubbele burgerskap gehad.

Snelweë langs die 100 km lange roete tussen Eindhoven en Hilversum is gesluit om die lang konvooi te laat verbygaan. Skares het op brûe bymekaargekom om blomme op die lykswaens te gooi.

’n Minuut stilte is landwyd gehou, waartydens geen vlugte by Amsterdam se Schiphol-lughawe geland of opgestyg het nie. Dit is waar vlug MH17 ses dae gelede vertrek het.

Heelwat lyke moet Donderdag in Nederland aankom, onder wie die 200 wat Nederlandse beamptes in die Oekraïne sê hulle van rebelle ontvang het.

Mark het gewaarsku die lyke kan eers ná maande geïdentifiseer word.

Nederlandse polisie het slagoffers se familie besoek om DNS-monsters te neem en besonderhede oor tatoes en vingerafdrukke te kry. Hulle raadpleeg ook mediese en tandheelkundige rekords om met die identifikasie te help.

Die vliegtuig se vlugopnemer is Brittanje toe geneem vir ontleding en Nederlandse ontleders het Woensdag gesê hulle het die data van die stuurkajuit-stemopnemer suksesvol afgelaai en dat daar geen bewyse dat daarmee gepeuter is nie.

Ondersoekers het gesê die vlugopnemer sal Donderdag ontleed word.

- Nicolas Delaunay/Sapa