Dokters sal later vanjaar by ’n konferensie ’n projek bekendstel wat daarop gemik is om die eerste kop reeds in 2017 oor te plant.

Die projek word gelei deur die Italianer dr. Sergio Canavero van die Turynse Groep vir Gevorderde Modulasie. Hy glo kopoorplantings kan diegene met degeneratiewe spiersiektes sowel as kankerlyers help.

Die New Scientist berig Sergio, wat in 2013 die moontlikheid van so ’n projek begin ondersoek het, glo nou hulle het die ergste struikelblokke in dié baanbrekerchirurgie uit die weg geruim. Dit behels hulle moet sorg dat die rugmurg met die nuwe kop verenig word en dat die liggaam se immuunstelsel dit nie verwerp nie.

Sergio beplan om die projek in Junie by die jaarlikse konferensie van die American Academy of Neurological and Orthopaedic Surgeons in Annapolis, Maryland, aan te kondig. Hy het vandeesmaand die teorie gepubliseer oor hoe hy glo die operasie suksesvol uitgevoer kan word.

Ná die operasie sal die pasiënt vir sowat vier weke in ’n koma geplaas word terwyl hy herstel. Sergio glo wanneer hy bykom, sal hy sy eie stem hê, kan beweeg en gevoel in sy gesig hê. Binne ’n jaar sal hy kan leer loop.

Volgens hom het verskeie mense reeds vrywillig aangebied om ’n nuwe liggaam te kry.

Die eerste suksesvolle kop-oorplanting – waar die kop van een aap op ’n ander aap oorgeplant is – is in 1970 in die Case Western Reserve-universiteit in Cleveland, VSA, gedoen. Die aap het vir nege dae oorleef, maar sy immuunstelsel het die kop verwerp.

Bronne: Time, The Mirror, Telegraph, CNet