Reeva Steenkamp en Oscar Pistorius in gelukkiger dae.

“Sy het voor die deur gestaan, met haar gesig na die deur toe,” het kapt. Chris Mangena gesê tydens sy ondervraging deur die staatsaanklaer, adv. Gerrie Nel.

Oscar het Reeva in sy huis in die Silver Woods Country Estate in Pretoria geskiet. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

“Die koeël het die heupbeen binnegedring en gebreek,” het Chris gesê. Sy het op die tydskrifrak geval, met haar rug teen die muur.

Hy kon dit vasstel deur die skietwonde op Reeva se liggaam te vergelyk met die koeëlgate in die deur. Die afstand tussen die hak en die heupwond was 93 cm, en die hoogte van die eerste koeëlgat in die deur was 93, 5 cm.

Oscar het gebukkend gesit in die beskuldigdebank, met sy duime in sy ore gedruk.

Die tweede koeël het Reeva nie getref nie.

“Koeël B het haar gemis, die vloerteëls getref en die koeëlfragmente het haar in die rug getref.”

Oscar staan tereg vir die moord op Reeva, wat op 14 Februarie verlede jaar deur ’n geslote badkamerdeur in sy huis geskiet is. Hy word ook daarvan aangekla dat hy die vuurwapenwet oortree het.

Hy het na bewering in Januarie verlede jaar ’n skoot van ’n Glock-pistool in ’n restaurant in Johannesburg afgevuur.

Hy het ook na bewering op 30 September 2012 ’n skoot deur die oop sondak van ’n motor afgevuur terwyl hy met vriende in Modderfontein was.