DIE tweede dag van Oscar Pistorius se moordverhoor het op dieselfde trant begin as waarop dit Maandag geëindig het.

Adv. Barry Roux, SC, wat die wêreldberoemde Paralimpiese atleet Oscar se verdedingspan in die hooggeregshof in Pretoria lei, het sy vurige kruisondervraging voortgesit van die eerste staatsgetuie, dr. Michelle Burger.

Michelle het gister getuig sy het drieuur die oggend van 14 Februarie verlede jaar ’n vrou se “bloedstollende gegil”, ’n man wat om hulp skree en vier skote gehoor. Oscar het vroeër aangevoer hy het sy modelmeisie Reeva Steenkamp doodgeskiet nadat hy haar in die vroeë oggendure vir ’n inbreker aangesien het.

Michelle se huis is sowat 177 m van Oscar s’n en haar erf grens aan syne op die Silver Woods-landgoed in Pretoria. Sy het ook haar stelling van gister herhaal: “Die vrou wat geskree het, het vir haar lewe gevrees.”

Barry se meedoënlose ondervraging van Michelle het vanoggend daartoe gelei dat hy haar minstens agt keer dieselfde vraag gevra het: “Voor jy jou verklaring afgelê het, het jy nie mnr. Pistorius se weergawe geglo nie; is dit korrek?”

Dié dosent aan die Universiteit van Pretoria het voet by stuk gehou dat sy bloedstollende gille gehoor het en nie kon verstaan hoe Oscar nie daarvan melding gemaak het in sy verklaring wat hy met sy borgtogaansoek voorgelê het nie.

“Dit is iets wat net mnr. Pistorius sal kan verduidelik,” het sy ferm geantwoord.

Barry, wat deurentyd oënskynlik geïrriteerd met Michelle voorkom het, het aan die begin van die verhoor gesê hy gaan vandag op twee aspekte van Michelle se getuienis konsentreer: geloofwaardigheid en betroubaarheid.

Regter Thokozile Masipa het gesê (oor die vraag wat so baie keer herhaal is) Burger het inderdaad nog nie die vraag beantwoord nie. Burger moet sover moontlik probeer "ja", "nee", "ek weet nie" of "ek kan nie onthou nie" antwoord , het die regter haar gemaan.

Die hofverrigtinge is vanoggend sowat ’n halfuur verdaag nadat dit onder die staatsaanklaer, adv. Gerrie Nel, se aandag gekom het ’n televisiekanaal het ’n gesigfoto van Michelle uitgesaai.

Sy het vroeër aangedui sy wil nie haar gesig laat afneem tydens die regstreekse uitsending van dié opspraakwekkende moordverhoor, wat geweldige mediabelangstelling ontlok, nie.

Regter Thokozile Masipa het gevolglik gelas ’n gesigfoto van getuies wat verkies om nie op televisie te verskyn nie, mag ook nie in enige media gepubliseer of uitgesaai word nie.

Barry se kruisondervraging van Michelle duur voort.

Almari Wessels