christoffbekker

Christoff Becker (voor) en Frikkie du Preez, twee van die sogenaamde Waterkloof-vier, buite korrektiewe dienste se gebou in Pretoria. (Foto: @hermanverwey, Beeld.com)

Die Waterkloof-vier is Dinsdagoggend op parool vrygelaat en het omstreeks 08:00 by die departement van korrektiewe dienste (DKD) in die Poynton-gebou in Pretoria ingestap.

Christoff Becker, Reinach Tiedt, Gert van Schalkwyk en Frikkie du Preez is in Januarie 2007 in die Pretoriase landdroshof elk tot 12 jaar tronkstraf gevonnis weens onder meer moord.

Becker het glo heel eerste ontbyt gaan eet saam met sy ouers en oupa.

'n Skoolvriend van Becker, Francois Lubbe, het aan Huisgenoot vertel dat hulle later 'n partytjie gaan hou. Hy en ander vriende beplan nou al weke aan 'n spitbraai-en-swempartytjie spesiaal vir Becker en Du Preez.

"Ek het omtrent 200 Afrikaanse liedjies gereed om vir hulle te speel. Kurt, Steve en Theuns. Dis musiek wat hulle meer as vyf jaar laas gehoor het."

Dis nie duidelik wat die ander twee,Van Schalkwyk en Tiedt, se families vir hulle beplan nie.

Maar dit is darem al hul tweede keer op vrye voete. Hulle is  in 2011 ook vrygelaat en was 'n jaar en 'n half op parool voor hulle terug tronk toe moes gaan.

Tiedt en Van Schalkwyk is in die Zonderwater-gevangenis naby Cullinan aangehou.

Becker en Du Preez het hul straf in die Kgosi Mampuru (Pretoria-Sentraal)-gevangenis uitgedien.

- Alet van Zyl

waterkloof4-2Vriende  van Christoff Becker en Frikkie du Preez het die Waterkloof-vier verwelkom. (Foto: @aletvanzyl, Huisgenoot)

waterkloof-4-1

Gert Labuschagne het vir sy skoolvriend Christoff Becker 'n blikkie koeldrank met sy naam op gekoop. (Foto: @aletvanzyl, Huisgenoot)