’n Amerikaanse dokter wat Ebola-pasiënte in Wes-Afrika behandel het, het ses dae ná sy aankoms in New York gehoor hy het ook die virus, nadat hy die stad reeds volgereis het.

Daar is Ebola by dr. Craig Spencer (33) gediagnoseer nadat hy met ’n hoë koors en naarheid na ’n New Yorkse hospitaal gejaag is en positief vir die virus getoets het, berig die Daily Mail.

Hy het onlangs van Guinee teruggekeer en is die eerste pasiënt in dié dig bevolkte Amerikaanse stad wat die virus onder lede het.

Hy is gister in die Bellevue-hospitaal in die hartjie van Manhattan opgeneem en is in afsondering.

Amptenare in Amerika se besigste metropool berei al maande voor vir ’n moontlike uitbreking. “Elke hospitaal in die stad is gereed om pasiënte met die virus behandel,” het New York se burgemeester, Bill de Blasio, New Yorkers op ’n nuuskonferensie gerusgestel. “Ons tref al die nodige voorsorgmaatreëls om te voorkom dat mense in New York die virus opdoen.”

Drie ander mense wat in kontak met Craig was, sy meisie, Morgan Dixon, en twee vriende, word ook waargeneem om seker te maak hulle het nie die virus nie. ’n Vierde persoon, ’n motorbestuurder wat met hom in kontak was, is ook getoets, maar word nie meer as ’n risiko beskou nie.

Gesondheidsbeamptes weet Craig het gaan draf, op drie verskillende treine gery, was in ’n besige park en het “moontlik” by ’n restaurant geëet. Hulle het mense verseker die kanse is “skraal” dat mense die virus sal opdoen, tensy hulle in aanraking kom met liggaamsvloeistof van die persoon wat die virus het.

Polisiebeamptes het dadelik Craig en Morgan se woonstel afgeskort toe hy met ’n ambulans hospitaal toe geneem is.

Die gesondheidsdepartement sê hulle kontak al Craig se vriende in ’n poging om enigiemand te identifiseer en te toets wat in aanraking met was.

Craig het op 16 Oktober via Brussels, België, na die JFK-lughawe in Queens, New York, gevlieg. Hy het glo Dinsdag begin sleg voel, maar eers Donderdag ’n hoë koors ontwikkel en dit dadelik aangemeld, berig die New York Times.

Hy het op 18 September by die organisasie Dokters Sonder Grense in Guinee aangesluit om pasiënte te behandel.

Minstens twee Spaanse sendelinge is dood nadat hulle ook die virus opgedoen het. Meer as 4 000 mense in Wes-Afrika is al weens Ebola dood. ’n Spaanse verpleegster wat vroeër die virus opgedoen het, is buite gevaar.