Minder as twee maande nadat ’n jong Albertonse tiener vermoor en haar halfnaakte lyk naby die plaaslike rugbyklub gevind is, is haar ma ook oorlede.

Ané Jacobs (16), wat op Saterdag 29 Oktober 2016 ná ’n kuieraand saam met vriende vermis geraak het, se ma, Anthea (46), ’n hartlyer, is Dinsdag ook tragies in die hospitaal dood nadat haar hart en longe ingegee het.

[caption id="attachment_152092" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto: Verskaf[/caption]

’n Hartgebroke Elise Jacobs (22), Ané se suster, vertel hul ma het baie vir ander beteken.

“My ma was iemand wat altyd oor ander omgegee het. Sy het altyd die lewe met albei hande aangegryp. Sy was altyd daar om om te gee en te praat.

"Sy het altyd selfs in elke hartseer oomlik ’n glimlag op my gesig probeer sit. Ek sal haar as die sagste en liefdevolste mens onthou.”

Anthea het twee weke gelede op haar Facebook-blad geskryf: “Mis jou my meisiekind. Kersfees gaan nooit weer dieselfde wees nie.”

anthea1

Sy het onderaan gesê daar is nog “geen nuus” oor die ondersoek na haar dogter se moord nie. “Nog niks nuus nie. Die gewag maak my gedaan,” het sy op 9 Desember geskryf.

Maar nou is sy ook van Elise en hul broer Louwrens (19) weggeruk kort voor Kersfees.

“Daar is nie woorde vir hoe ek voel nie. Eers my sussie, nou my ma. Die jaar is net te veel gewees. Ek mis my sussie verskriklik baie.”

Ané het na bewering die aand saam met drie vriende gaan kuier, maar nooit huis toe gekom nie. Een van die vriende het haar glo op haar versoek by die padkafee ’n blok van haar woonplek afgelaai.

Haar familie het haar die volgende oggend as vermis aangegee. Haar lyk is die Dinsdag opgespoor toe twee mans met honde op haar lyk afkom.