Kwalik is die Samsung 7 Galaxy Note voorlopig van die mark onttrek, of miljoene van hul wasmasjiene word teruggeroep.

In hierdie stadium wil dit voorkom asof die probleem net tot produkte wat in Amerika en Kanada beskikbaar is, beperk word.

Gelukkig raak dit nie alle Samsung-wasmasjiene nie, net 34 van die modelreekse wat van Maart 2011 tot November 2016 verkoop is.

Die probleem met ontploffende wasmasjiene is nie nuut nie. Hierdie video is een van vele wat reeds meer as 'n jaar gelede gedeel is.

Daar word nou 2,8 miljoen van Samsung se "top-loader"-wasmasjiene in Amerika teruggeroep nadat 730 van die eenhede ontplof het. Nege mense is daardeur beseer.

Sake lyk net so treurig wat hul Kanadese bure betref met meer as 250 000 wasmasjiene wat in daardie land teruggeroep word. CNN Money het hierdie video gedeel wat nog van die gedoemde wasmasjiene wys nadat hulle ontplof het.

Elliot Kaye, die voorsitter van die Amerikaanse Verbruikersprodukte-veiligheidskommissie, het Vrydag aan Good Morning America gesê dat die geaffekteerde wasmasjiene glo as gevolg van 'n ontwerpblaps nie stewig genoeg is nie. Wanneer die wasmasjiene ontplof, kan verskeie goed skeefloop. Van die deksels skiet die hoogte in, terwyl daar ook vertel word van brandskade en beserings. Melissa Thaxton(32) van Dallas het vertel hoe haar wasmasjien geheel en al uitmekaar gespat het terwyl dit in die finale tuimelsessie was. "Dit het soos 'n bom geklink," het sy vertel.
In 'n verklaring deur Samsung aan GMA is daar glo genoem dat die maatskappy vinnig besig is om werk daarvan te maak dat verbruikers wat deur die herroeping van die wasmasjiene geraak word van veilige en maklike opsies voorsien sal word. KLIK HIER om uit te vind watter modelle wel teruggeroep word.
Intussen het die huis van Mary Bob en Arthur Bob, beide 69 jaar oud, in Houston feitlik tot op die grond afgebrand toe hul wasmasjien ook ontplof het.

Dit is nie die eerste keer dat 'n enorme hoeveelheid Samsung-wasmasjiene herroep moes word nie. In 2013 het dit ook in Australië en Nieu-Seeland plaasgevind. Hierdie keer egter het die owerhede van Doer Onder bevestig dat geen van die modelle op die huidige herroeplysie deur hulle ingevoer is nie.

Terloops, volgens techradar.com is 85% van al die Galaxy Note 7-toestelle reeds omgeruil.

Volgens Bloomberg kan die skade wat deur die Galaxy-debakel veroorsaak is, Samsung tot soveel as $7 biljoen uit die sak jaag.

Bronne: yahoo.com, metro.co.uk,abc13.com, bloomberg.com, cnn.com,globalworld.com