[caption id="attachment_157352" align="alignnone" width="600"]Christopher Carstens, voor die ongeluk. Foto: Verskaf Christopher Carstens, voor die ongeluk. Foto: Verskaf[/caption]

Hy het as ketelmaker vir die maatskappy Soill, vervaardiger van kanola-olie op Swellendam, gewerk toe die voorval op 10 September 2014 gebeur.

“Weens die ernstige aard van die ongeluk is ’n eksterne party aangestel om ’n volledige ondersoek te doen,” bevestig Kellie Becker, besturende direkteur van Soill, in ’n geskrewe antwoord op Huisgenoot se vrae.

Christopher en ’n kollega het daardie dag meer as twee jaar gelede opdrag gekry om sweiswerk bokant ’n meul in ’n silo van Soill te doen. Die motor en masjien was ontkoppel toe hulle begin werk, onthou Christopher. Hy moes bo-op die meul staan om die sweiswerk te doen.

[caption id="attachment_157353" align="alignnone" width="600"]Christopher in die hospitaal. Foto: Verskaf Christopher in die hospitaal. Foto: Verskaf[/caption]

Skaars 15 minute later het die elektrisiën glo weer die masjien aangeskakel. Die meul het Christopher se bene gegryp en begin maal; dit vergruis. Die masjien is gou weer afgeskakel, maar dit was nie betyds nie.

Christopher, wat ook einde Maart of begin April die pa van ’n seun, Odin Hawke Carstens, gaan word, wil graag nou op ’n skoon lei met ’n nuwe lewe begin. Maar hy kan nie kop bo water hou met die paar duisend rand wat hy deur sy “vergunningsooreenkoms” gekry het nie.

“My vrou hanteer dit baie moeilik,” se hy. Sy was vyf maande swanger toe die voorval gebeur het. Ons kan die impak van die skok wat my vrou beleef het in my kind sien in die angstigheid wat sy soms beleef. Sy moes iets daar in die baarmoeder beleef het ná my ongeluk.”

Dis steeds ’n traumatiese ervaring vir sy vrou, Natalie Rupping (29), om te sien dat haar eens sportiewe, aktiewe man nou “nooit weer saam met haar sal kan dans nie”.

[caption id="attachment_157355" align="alignnone" width="600"]Christopher se linkerbeen is bo die knie geamputeer. Foto: Verskaf Christopher se linkerbeen is bo die knie geamputeer. Foto: Verskaf[/caption]

“Alles is weggevat. Ek moet oor begin in alle aspekte. Dis asof ek ’n nuwe liggaam het; dit is so verander,” vertel Christopher (33) uit Swellendam in die Swartland. “Hoe kan jy nuut begin as alles weggevat is?” vra hy. Die ongeluk moes nooit gebeur het nie. Dit kon voorkom geword, meen hy.

Sy linkerbeen is bo die knie geamputeer. Hy het ook net gedeeltelike gebruik van die ander been.

Hy was goed gebou en sportief voor die “onnodige ongeluk”. “Wel, ek kan nie meer rugby speel, draf of loop soos altyd nie. Ek kan nie meer my frustrasies uit hardloop en draf nie. Ek het moeite met alles wat ’n normale mens as normaal beskou: bad, toilet toe gaan, slaap weens die daaglikse pyn, swelling, depressie en angs,” vertel hy.

Dis vir hom moeilik om na foto’s te kyk van die lenige en gespierde lyf wat hy gehad het. “Ek voel sielkundig en liggaamlik gebreek,” vertel hy. “Ek is depressief. My liggaam is verkrag, gebreek en uitmekaar geskeur.”

Hy het ook sy vertroue in mense verloor omdat die maatskappy hom na bewering beloof het hulle sal “seker maak ek is gemaklik in my lewe vorentoe, maar ek het daagliks stres en wonder wat gaan van my en my gesin word,” sê Christopher.

Hy, Natalie en hul tweejarige dogtertjie, Aurora Lilly-Rose Carstens, het danksy ’n vriend, Barry Gildenhuys, ’n dak oor hul kop. “Hy het ses maande vir my betaal waar ek nou bly en hy betaal water en elektrisiteit elke maand,” vertel hy.

Sy vrou het voorheen nooit gewerk nie, nou doen sy aan en af werk om hul inkomste aan te vul. “Ons het rêrig hulp nodig: geldelik en geestelik,” sê Christopher.

[caption id="attachment_156850" align="alignnone" width="450"]Christopher Carstens en Natalie Rupping saam met hul dogtertjie, Aurora Lilly-Rose. Foto: Verskaf Christopher Carstens en Natalie Rupping saam met hul dogtertjie, Aurora Lilly-Rose. Foto: Verskaf[/caption]

Die vergoedingskommissaris het hom R3 000 per maand aangebied, maar Christopher wou dit nie aanvaar nie. “Want dit kan skaars my huur betaal en ek het ’n vrou en kind om na om te sien. Dit is onregverdig dat hulle hiermee wegkom.”

Soill het voortgegaan om ’n werkgewersverslag aan die departement van arbeid te stuur op 15 September 2014 en opgevolg met verdere verslae op 17 September, vertel Kellie.

“Vergoeding van beserings aan diens word gereguleer deur die Wet op Vergoeding van Beroepsbeserings en -siektes waaraan alle werkgewers wetlik verplig word om te behoort en betalings voor te maak. Ingevolge hierdie wet word werkgewers gelas om werknemers wat langer as drie maande afgeboek word weens ’n besering aan diens, vir drie maande te vergoed teen 75 persent van die werknemer se inkomste voor die voorval,” verduidelik Kellie.

“Soill het voortgegaan om aan Christo sy volle salaris vir die eerste jaar ná die voorval te betaal met inbegrip van sy normale jaarlikse aanpassing. Soill het aan Christo en sy gesin noemenswaardige finansiële steun gegee ten tyde van sy hospitalisasie in die vorm van verblyf, reiskoste, telefoononkoste, ensovoorts.”

Die maatskappy se vergunningsooreenkoms met Christopher behels dat hy vir die tydperk 1 September 2015 tot 30 Augustus 2016 sy volle salaris ontvang het en sy verblyf, lidmaatskap tot ’n gimnasium en onkoste vir sielkundige berading vir 12 maande is ook deur die maatskappy betaal.

Na afloop van die 12 maande sou Christopher terugkeer werk toe waar hulle vir hom ’n “geskikte pos” aangebied het. Christo se finale mediese verslag was gedateer 3 April 2016 en het bevind hy is geskik vir werk in ’n sittende posisie.

Ja, hulle het hom alternatiewe werk aangebied, “maar wat hul woord was en wat die werk op papier was, verskil dag en nag,” meen Christopher. Die stoorkamer waarin hy heeldag vasgekluister sou wees, was nie rolstoel-vriendelik of veilig nie.

[caption id="attachment_157361" align="alignnone" width="605"]Christopher Carstens. Foto: Verskaf Christopher Carstens. Foto: Verskaf[/caption]

“Soill het Christo se beperkings ten volle in ag geneem met die posisie, maar het geen reaksie van Christo ontvang nie,” sê Kellie.

Christopher stem nie saam nie. “Ek het wel werk toe teruggekeer. Drie keer,” sê hy. Elke keer het hulle hom glo huis toe gestuur omdat hulle kwansuis nog besig was om vir hom spesiaal ’n kantoor in te rig. “Hulle wil my nie rêrig daar hê nie,” voel hy.

Hy ontvang steeds die maandelikse versekering (wat destyds van sy salaris afgetrek is). Hy ontvang R2 800 per maand, maar net tot Maart, vertel Christopher.

“Maar dit neem nie in ag die verlies van my ledemaat en 40 persent gebruik in die ander been nie,” sê hy. “Medies is ek afgesny en prostese is baie duur. Ek het nie geld vir ’n fisioterapeut of dokter nie,” voeg hy by. Dis waarom ek aanhou veg vir ekstra vergoeding weens die growwe nalatigheid.

Christopher wil hê sy voormalige werkgewer moet besef hy het as mens ná die ongeluk verander. “Aan my is in die hospitaalbed onder morfien beloftes gemaak,” onthou hy. “Hoekom moet ek hulle nou vir hulp smeek? Hoekom gee hulle voor of ek iets verkeerd gedoen het?” vra hy.

Hy wil ook keer dat so ’n wrede ongeluk met iemand anders in die silo’s gebeur.

Oor sy pensioen:

Die datum en bevinding van die finale mediese verslag was bepalend vir die hantering deur die wet en die werkgewer se pensioenfonds, sê Kellie.

[caption id="attachment_156844" align="alignnone" width="450"]Christopher Carstens. Foto: Verskaf Christopher Carstens. Foto: Verskaf[/caption]

“Die pensioenfonds het ’n drie maande-wagtydperk ná die verslag se datum wat effektiewe voordele dus op 6 Julie 2016 maak en dit word betaal teen 75 persent van sy salaris.

“Sedert 15 September 2014 het Soill herhaaldelik met die departement van arbeid geskakel oor die vordering met die eis wat ingedien is. Terugvoering wat ontvang is op 19 Januarie vanjaar is, gegrond op die feit dat Christo nie permanent ongeskik verklaar is nie, ’n gedeeltelike maandelikse pensioen aan hom toegestaan is.”

  • Stuur e-pos aan Christopher Carstens by christophercarstens69@gmail.com.